On Now
Weekends 16:00 - 19:00
All Request Sunday Nikki
NEXT: 19:00 - 20:00 Nuut in Afrikaans with Nikki
Listen Live Streams

Agri Hour

Uitstallers sê nee vir ‘n virtuele Nampo

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Wed, 10 Feb 2021

Uitstallers sê nee vir ‘n virtuele Nampo | News Article
Foto: OFM-nuus

Uitstallers verkies eerder om die 2021 Nampo Oesdag in lewende lywe te ervaar as wat dit weer virtueel plaasvind.

Toit Wessels, assistentbestuurder vir Nampo en bemarking by Graan SA, sê uitstallers het ‘n vraelys hieroor ingevul.

Sien onderstaande PODCAST

Hierdie vraelys kom te midde van ‘n besluit om die geleentheid wat van 11 tot 14 Mei sou plaasvind op Nampo Park, buite Bothaville in die Vrystaat, te skuif na 17 tot 20 Augustus vanjaar.

Wessels sê die besluit is geneem om die veiligheid van besoekers en alle betrokkenes te verseker. Hy verduidelik ook dat hulle hoopvol is dat die regeringsbeleid en –riglyne vir Covid-19 die uitgestelde datum sal toelaat.

Luidens Wessels was dit belangrik om uitstallers – wat as vennote van Nampo beskou word – te vra hoe hulle graag vanjaar se Nampo wou sien gebeur. Hy sê uitstallers het aangedui dat dit eerder uitgestel of afgestel moet word en nie virtueel aangebied moet word nie. Die rede hiervoor, verduidelik Wessels, is sodat mense weer die geleentheid kan kry om die gebeure fisies te ervaar. Hy voeg egter by dat daar dalk gekyk gaan word of sekere gebeure wel aanlyn gaan plaasvind soos debatte en inligtingsessies.

“Ons vennote sê nee. Eerder ‘n kleiner Nampo met 60% uitstallers en 60% bywoning as ‘n virtuele een,” sê Wessels.

Daarmee saam deel hy dat verlede jaar se eerste Nampo virtueel ‘n groot sukses was, en dat hulle goeie terugvoering ontvang het.

Wessels moedig mense, betrokke in die landboubedryf en selfs diegene wat nie betrokke is in die bedryf nie, om die geleentheid by te woon. Hy spog dat Nampo die grootste landbouskou in Afrika is en in dié stadium een van die vyf grootste geleenthede ter wêreld is.

“As jy Nampo Oesdag toe kom, ‘n dag is amper te min. Jy moet twee uitsit. Daar is regtig vir elke vrou, vir elke boer, vir elke liefhebber van landbou en al het jy ook niks met landbou te doen nie – is daar voertuie en allerhande [vermaak] beskikbaar. Al die nuwe tegnologie word ook daar uitgesaai,” deel Wessels.

Hy sê Graan SA sal die nuwe datum weer op 1 Junie evalueer en hersien indien dit deur die Nasionale Ramptoestand genoodsaak word.

Intussen sê Graan SA in ‘n verklaring met die aanvang van 2021 het dit voortgegaan om die oplewing in die koronaviruspandemie nasionaal sowel as die gepaardgaande regulasies en beperkings op die land, te monitor. Ingevolge die huidige Vlak 3 van die Wet op Rampbestuur, het Graan SA voortdurend die moontlikheid geëvalueer om die Nampo Oesdag van 2021 in die oorspronklike formaat aan te bied, alhoewel met die beste praktyke in gedagte om die veiligheid van uitstallers en besoekers te verseker.

Die Nampo Kaap skou, geskeduleer vir 8 tot 10 September in Bredasdorp, Wes-Kaap, en die Nampo Alfa-skou, beplan vir 30 September tot 2 Oktober op Nampo Park, Bothaville, sal voorlopig op hierdie bevestigde datums voortgaan, sluit Wessels af.


 


OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.