Agri Hour
Oes van rosyntjies in volle gang─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Wed, 10 Feb 2021
Rosyntjieprodusente is hard aan die oes en Bekkie van Aarde, Inligting en Kommunikasiebestuurder by Raisins SA, deel ‘n kort oorsig oor die huidige oesseisoen.
Sien onderstaande PODCAST
Van Aarde sê die eerste vrugte word vanaf begin Januarie geoes terwyl die laaste vrugte rondom Mei gelewer word.
Wat uitdagings betref, sê sy het die onlangse wydverspreide reën, wat talle Noord-Kaapse inwoners dakloos gelaat het, ook ‘n negatiewe invloed op van die oeste gehad.
Van Aarde sê alle rosyntjieprodusente vanaf Prieska tot Augrabies het reënskade gely in ‘n meerdere of mindere mate. Sy voeg by dat die sultanas – wat die ryper vrugte was tydens die swaar reën – die meeste skade gelei het.
“Die rypheidsgraad speel ‘n baie groot rol. As die suiker laer is, het die reën nie so ‘n groot invloed op die vrugte nie, maar as hulle ryp is en soet is, dan maak dit meer skade,” verduidelik sy.
Verder sê Van Aarde ten spyte hiervan, gaan dit sover goed met die oes in die Olifantsrivier.
Van Aarde sê die aanvanklike oesskatting was 86,000 ton, maar dat dit aangepas is ná die swaar reën na 70,000 tot 75,000 ton.
Produksievolumes toon ‘n afname van tussen 12% en 18% vanjaar teenoor wat aanvanklik geskat is, sê Van Aarde. Sy sê daar word ook voorsien dat die goue rosyne met 50% af sal wees vanjaar weens die sultanas wat groot reënskade gely het.
Van Aarde sê die volumes wat geskat is vir die goue rosyne is sowat 13,000 ton vir die jaar, wat die helfte minder is as verlede jaar se 26,000 ton.
Daarmee saam voorspel Raisins SA dat baie meer Suid-Afrikaanse sultanas deur produsente gedroog gaan word. Van Aarde sê die strategie, as gevolg van die reën, is om die vrugte vroeër af te haal sodat dit vinniger kan droog word.
OFM-nuus het voorheen berig Ferdie Botha, hoof uitvoerende bestuurder van Raisins SA, sê dat die 2020-bemarkingsjaar op ‘n goeie noot afgesluit het met 'n goeie vraag na rosyntjies. Hy verduidelik dat hierdie toename in vraag toegeskryf kan word aan verbruikers wat op soek is na 'n gesonder leefstyl en gesonder produkte tydens die Covid-19 pandemie.
OFM-nuus
