Agri Hour
Hulpverleningsorganisasie skenk beeste─── 14:32 Wed, 17 Feb 2021
Die Vrystaat se verwoestende brande van 2020 sal deur almal onthou word.
Tesame met baie boereverenigings, individue en finansiele donasies kon die hulpverleningsorganisasie, Droogtehulp met Burre Burger, in die laaste week oor die 300 beeste in die provinsie aflewer. Droogtehulp met Burre Burger het 'n hulpkreet van die Vrystaat-provinsie se boerderygemeenskap beantwoord.
In 'n onderhoud met OFM-nuus, sê die organisasie se stigter, Burre Burger, tydens veldbrande in Oktober verlede jaar het talle boere in die Boshof- en Hertzogville-omgewing hul diere in die brande verloor. Burger en sy vriend, Werner Boshof, het besluit om 'n projek genaamd "Borg 'n vers" te begin waar hulle hulp van die gemeenskap gekry het om beeste aan slagoffers van die 2020-veldbrande te skenk. Die 332 beeste se waarde word tussen R4 miljoen en R5 miljoen geskat.
Met dié projek beoog hulle om terug te gee aan soveel mense as moontlik wat tydens die brande verlies gely het, sê Burre. Hy sê sy organisasie se hoofdoel is om boere in droogtegebiede te help deur kos, diere en klere te skenk as ook kinders se skoolfondse te betaal en plaaswerkers met hul behoeftes by te staan. “Daarom probeer ons organisasie werklik 'n verskil te maak, nie net in die lewens van boere nie, maar as geheel regoor Suid-Afrika,” voeg Burre by.
OFM-nuus/Blaine Jones
