Agri Hour
Senekal-gemeenskap vat hande, tv-reeks moontlik─── CATHY DLODLO 15:12 Wed, 17 Feb 2021
Die Vrystaatse dorpie Senekal het internasionale nuusopskrifte gehaal nadat die gemeenskap – insluitende boere van regoor die provinsie – na dié dorp opgetrek het teen plaasaanvalle.
Hulle het tydens die hofverskyning van verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met die grusame moord op ’n 21-jarige plaasbestuurder, Brendin Horner, betoog. Onrus het uitgebreek toe van die betogers die hofgebou betree het en ’n polisiewa glo omgekeer en aan die brand gesteek het. Inwoners van dié dorp het egter besluit om hande te vat eerder as om toe te laat dat die gebeure verdeeldheid veroorsaak. Nou het dié dorp sommer ’n nuwe inwoner verwelkom wat die gebeure in ’n tv-reeks gaan vasvang.
Voormalige krieketspeler en filmmaker Frans Cronjé het sowat drie weke gelede op dié dorp gaan nesskop. Hy sê eers het hy nie gedink hy sou Kaapstad – waar hy die afgelope jare gebly het – kan verruil vir ’n plattelandse dorpie nie, as gevolg van dié se geskiktheid vir die film-industrie.
Cronjé sê hy het egter gou sy voete gevind en deel geword van die Senekal- en Matwabeng-gemeenskapsforum. Dit is ‘n organisasie waaraan inwoners kan behoort met die opheffing van die gemeenskap en die dorp ten doel.
“Ná alles wat dié dorp en sy inwoners beleef het – die optogte en plaasaanvalle – het die gemeenskap besluit in plaas daarvan om oorlog te maak, gaan hulle hande vat. Die organisasie het besluit om self in te spring en die verouderde en gehawende infrastruktuur te herstel.
Hy sê dit sluit onder meer die herstel van paaie en die skoonmaak van die dorp in. Die grootste uitdaging in hierdie stadium is die voorsiening van water, sê Cronjé. Die dorp beplan om weer op 20 Februarie 2021 ‘n groot skoonmaak-operasie en geldinsamelingsdag te hou. Intussen het verskeie ander dorpe in die omgewing ook begin om hulle eie gemeenskapsorganisasie op die been te bring.
OFM-nuus
