On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight OFM
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agri Hour

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?

───   05:00 Thu, 04 Mar 2021

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher? | News Article

Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag, praat OFM-nuus se Elsabé Richard met die landbou-ekonoom, dr. Kobus Laubscher.

Sien onderstaande PODCAST

In vandag se insetsel praat Laubscher oor kosinflasie en hoe dit veral arm huishoudings raak.

“Statistieke vertel nie altyd die volle verhaal as dit kom by inflasie nie – dit meet weliswaar belangrike veranderings, maar is nie spesifiek genoeg nie. Kosinflasie loop dieselfde pad, want te veel ontleders kan bewys dat veral die armes, wat ver meer as die helfte van hulle besteebare inkomste aan kos bestee, inflasievlakke van tot dubbel die amptelike koerse ervaar. 

“Die Pietermaritzburg Economic Justice & Dignity Group publiseer gereeld inligting oor die impak van veral kosinflasie op die armes.  Hulle nuutste opnames toon dat met ongeveer 60% van die bevolking wat tans die minimum loon van R3 322 per maand ontvang (dit was voor die verhoging wat in Maart wet geword het), per maand ‘n tekort van meer as R800 vir ‘n gesin van sewe het om genoeg kos te kan koop om aan die minimum voedingstandaarde te kan voldoen. 

“Volgens die Pietermaritzburg-groep kos dit vir gesinne met 4 lede, 5 lede en 7 lede onderskeidelik R2 830, R3 575 en R4 942 per maand onderskeidelik om gesonde kos op die tafel te sit. Vir kinders tussen die ouderdomme van 3, 7 en 9 jaar, kos dit R634 per maand - welke behoefte veel minder is as selfs die verhoogde maandelikse kindertoelaag van die staat. Pryssensitiwiteit is dus wesenlik as die volgorde van aankope deur dié groep van die bevolking ontleed word.

“Rys is byvoorbeeld naas mieliemeel die belangrikste en die prys van rys jaar-op-jaar tot Desember 2020, het met bykans 53% toegeneem. BFAP het verder ook berig van veranderde verbruikspatrone waar minder brood en meer mieliepap verbruik word.  

“Die Kinderinstituut van die Universiteit van Kaapstad het in hulle 2020 verslag gewys op die uiters negatiewe impak van onvoldoende voeding op kinders se groei en ontwikkeling. Die Nasionale Bemarkingsraad se navorsing ondersteun die afleidings van die Pietermaritzburg groep, naamlik dat kosinflasie veel hoër is onder die armes as wat amptelik gerapporteer kan word. Hulle baseer hulle verwerkings op die ontleding van ‘n voedselmandjie van 28 produkte.

“Die vraag is waar laat dit beleidmakers. Gegewe die omvang van werkloosheid en die tyd wat dit kan neem vir beleid wat werkskepping bevorder om in te skop, kan met reg gesê word dat die hef aan nog voorlê. Opnames onder arm mense wat daagliks die uitdagings van onbekostigbare pryse in die gesig staar, wys op allerlei slim planne van diesulke ouers. Hulle vertel van die gestoei om kos op die tafel te kry en hoe volwassenes minder en self niks eet sodat die kinders kan eet.

“Die oplossing lê nie in groter toelaes nie, maar wel in ekonomiese groei om meer mense te laat werk. Die nuutste inisiatiewe van die regering het bepaald hierdie realiteite in ag geneem, maar die waarskuwing van President Ramaphosa dat blywende toelaag afhanklikheid onbekostigbaar is, is die realiteit.

“Daarteenoor is Suid-Afrika besonder geseënd met die belofte van selfs ‘n rekord somergraan-oes. Boere het dus die regte ding gedoen en die goeie nuus is dat prysvlakke tans nie deur hierdie groot oes negatief beïnvloed word nie. Die landbou behoort dus in staat te wees om buitengewone verligting te help bring aan die aanbodkant, maar terselfdertyd sal die inkomste-posisie op plaasvlak ook só kan herstel dat die sektor nie nodig mag hê om meer arbeiders af te lê nie.

“Die vraag is net tot watter mate daar samewerking sal kom in die waardeketting ten einde transaksiekoste in toom te hou om sodoende nie uitermatige opwaartse druk op verbruikerspryse te plaas nie. Dieselfde kan verwag word van die komponente wat bydra tot inflasie en wat hoofsaaklik administratief van aard is.  Die sal die aangewese wees dat ‘n groot deel van die ekonomiese heropbou deur vraag gelei moet wees. 

“Meer mense moet in staat wees om meer te kan eet en sodoende kan die landbou en landbouwaardekettings se bekende vermenigvuldigers inskop. Die landbou moet onverskrokke wees as dit kom by die afdwing van komplimenterende beleidsekerheid,” sluit Laubscher af.



OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.