Agri Hour
Onverantwoordelike gebruik van antibiotika bedreig veebedryf─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Tue, 09 Mar 2021
Die langtermyngevolge van die voorkomende gebruik van antibiotika onder vee, bedreig nie net die gesondheid van die kudde nie, maar benadeel ook die toekomstige winsgewendheid van die veebedryf.
Dit is volgens Roelie van Reenen, hoof van die verskaffingsketting van die Beefmaster-groep.
Sien onderstaande PODCAST
Van Reenen deel dat die langtermyngevolge van die voorkomende gebruik van antibiotika onder vee ‘n groot probleem is. Hy waarsku rolspelers in die bedryf om die belangrike ekonomiese rol van die veebedryf op die lang termyn te beskerm - wat begin met die veilige en verantwoordelike gebruik van antibiotika.
Hy voeg verder by dat as boere nie die antibiotika wat tans beskikbaar is beskerm nie - wat noodsaaklik is vir die behandeling van baie aansteeklike siektes by vee - sal hulle in die toekoms baie min opsies hê om diere teen siektes te behandel en dit sal 'n groot invloed op die veebedryf hê.
Daarmee saam sê Van Reenen die onverantwoordelike gebruik van antibiotika in die bedryf kom oor die algemeen voor.
Hy verduidelik verder dat die gebruik van Skedule 4-medisyne in die bedryf 'n toename in gebruik toon en uiteindelik daartoe sal lei dat boere nie siek beeste kan behandel sodra die bakterieë weerstand teen hierdie behandelings ontwikkel nie.
Van Reenen voeg by dat as die bakterieë in beeste 'n weerstand ontwikkel as gevolg van die oorbenutting van antibiotika, sal boere nie siektes effektief kan behandel nie. Hy sê daar bestaan ‘n behoefte vir ‘n meer holistiese benadering tot die gebruik van antibiotika by diere, sodat dit help om die kuddegesondheid op te bou en nie te vernietig nie.
“Die Beefmaster-groep is al lank 'n voorstander van die oordeelkundige gebruik van antibiotika by diere. Die groep, wat saam met sowel gevestigde as kommersiële boere werk om toegang tot 'n verskeidenheid beeste vir sy produksiebehoeftes te kry, is vasbeslote dat hy nie beeste van boere wat antibiotika aan kalwers en speenkalwers toegedien het, aanvaar nie. Verder het dit 'n verantwoordelike beleid oor die gebruik van antibiotika in sy voerkraal in Christiana, en werk die groep baie nou saam met dieregesondheidskundiges, wat hierdie siening deel om medisyne aan sy diere toe te dien,” sê Van Reenen verder in ‘n verklaring.
Van Reenen sê die groep doen 'n beroep op die bedryf om die benadering tot die gebruik van antibiotika as 'n bestuurshulpmiddel om siektes te voorkom te verander, en om dit slegs te gebruik onder leiding van 'n veearts wat opgelei is om te weet wat om te gebruik en wanneer om siek diere te behandel. “Dit is omdat die verkeerde gebruik van antibiotika die probleem van weerstand teen antibiotika skep en die geleentheid vir die vleisprodusent beperk om 'n kwaliteitsproduk te kry van 'n dier wat voorheen met antibiotika behandel is. Dit lei ook tot die ontwikkeling van weerstand teen daardie spesifieke groep antibiotika,” sluit van Reenen af.
OFM-nuus
