Agri Hour
’n Kuur teen dodelike blougroen alge─── 05:00 Mon, 22 Mar 2021
Mense wat water uit die Setumodam naby Mahikeng kry, kan binnekort skoner water hê.
Landbou.com berig die dam lewer water, insluitende drinkwater, aan sowat 500 000 mense, maar dit is erg besoedel.
Sien onderstaande PODCAST
Setumo, wat bestuur word deur Sedibeng Water, is vol siaanbakterieë, ook bekend as blougroenalge, wat kenmerkende blougroen lyne maak aan die kante van damme.
Gebruikers van die dam hoop dat die middel wat sedert 12 Maart toegedien word, die watergehalte sal verbeter.
In 2015 is in ’n studie bevind sowat 62% van Suid-Afrika se damme is met die alge besoedel. Dié damme is so groen dat dit vanaf die ruimte sigbaar is. Sowat 60 miljoen damme wêreldwyd het dieselfde probleem.
“Die bakterieë vermeerder besonder vinnig. Binne ’n paar dae kan tien selle tot 167 miljoen vermeerder. As die alge nie bekamp word nie, het jy gou ’n dooie watermassa,” sê mnr. Eyal Harel. Harel is een van die stigters en uitvoerende hoof van BlueGreen Water Technologies International.
Die produk, Lake Guard™, wat in Israel ontwikkel is, is verlede jaar gebruik om die watergehalte van Roodeplaatdam buite Pretoria te verbeter. Die alge het aansienlik verminder.
“Blougroenalge is giftig vir mense en diere,” sê Harel. “Besoedeling, soos riool, stimuleer die bakterieë se groei. As ’n oormaat kunsmistowwe gebruik word, kan dit ook in die riviere afspoel en die probleem vererger.
Probleme vir boere
“Boere wat waterbronne met blougroenalge gebruik, kan groot skade ly weens veeverliese en besproeiingstelsels wat verstop.” Verder verhoog die water se pH-vlak, wat die kunsmis se oplosbaarheid verminder. Derhalwe kan plante dit nie doeltreffend opgeneem nie.
Mnr. Jurgens van Loggerenberg, hoofbestuurder van BlueGreen Water Technologies Afrika, sê waterstofperoksied, die aktiewe bestanddeel in Lake Guard™ Oxy, is omgewingsvriendelik. Dit breek in die besoedelde water af in water en suurstof, wat ’n ongunstige omgewing vir die bakterieë skep.
“Groter damme word gewoonlik deelsgewys behandel omdat ’n suurstoftekort in die water kan ontstaan as die bakterieë die dooie siaanbakterieë te vinnig verteer. Dit kan ’n probleem vir vislewe in die water veroorsaak.”
Hy sê die gepaste dosis vir damme van enige grootte is veilig. Die produk is goedgekeur vir gebruik in drinkwater deur die nasionale sanitasie-assosiasie en vir die behandeling van damme deur die department van landbou, bosbou en visserye.
Boere het gewoonlik van 5 kg tot 50 kg van die produk nodig om besoedelde water te behandel. Dit kos ongeveer R3 000 per 5 kg-drom.
Kontak Van Loggerenberg by 082 453 4924 met navrae.
