On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Arts

Oogwink op verhoog verg maande se voorbereiding – besoekende mezzo

───   MORNÉ VAN ROOYEN 14:04 Thu, 19 Mar 2026

Oogwink op verhoog verg maande se voorbereiding – besoekende mezzo | News Article
Violina Anguelov as Carmen in ’n produksie van Kaapstad-opera in 2011. Foto verskaf

’n Oomblik voor die voetligte verg weke en selfs maande se voorbereiding vir ’n operasanger.

Violina Anguelov het musiekliefhebbers Saterdagaand (14/3) in die Odeion op die Kovsiekampus in Bloemfontein trakteer op haar vertolking van Hector Berlioz se liedsiklus Les Nuits d’été (‘Somernagte’). Ná die tyd het sy vertel sy wens sy kon dit weer sing, want dit was so vinnig verby.

Maar watter voorbereiding verg dié tydjie in die kollig? “Die vokale voorbereiding duur maande. Behalwe dat jy die werk ‘in jou stem moet plaas’, moet jy jou stem ook afrig vir enige moeilike dele,” vertel Anguelov.

Violina Anguelov het onlangs in Bloemfontein opgetree toe die Japannese dirigent Yasuo Shinokazi (regs) die Vrystaatse Simfonieorkes gedirigeer het. Daniel Boico (links) is direkteur van dié orkes. Foto verskaf

’n Week voor ’n groot optrede begin sy haar liggaam en haar verstand gereed kry. Om die teks en betekenis te leer begin ook lank voor die tyd, maar ’n week vooraf begin sy haar afsluit van die buitewêreld. “Ek begin in ’n borrel leef, maar stel ek my siel heeltemal oop sodat ek die karakter wat ek gaan vertolk, kan aanneem.”

In dié tyd raak sy uiters liggeraak. Haar man herken al die tekens. Gelukkig weet hy die veiligste is om dan draaie om haar te loop, want sy is nie haarself nie. “Dis waarom dit gaan om op die verhoog te wees. Jy word iemand anders.

“Jy word die kanaal waardeur alles vloei sodat jy dit vir die gehoor kan uitbeeld,” vertel sy. “Daarom bly ek ’n week lank in daardie ruimte. Dis moeilik vir my en die mense om my, my gesin. Ek moet by hulle wees, maar op ’n effense afstand.”

LEES OOK Bloemfonteinse optrede: Mezzosopraan sing al van vier af

Ná die weke lange voorbereiding breek die dag van die vertoning eindelik aan. “Ek warm altyd die oggend op en sing die hele werk deur,” vertel Anguelov, “sodat ek weet: Goed, ek het dit gesing, ek weet van moeilike plekke, ek het dit ‘in my stem geplaas’. My verstand en my liggaam is teenwoordig.”

Ongeag hoe die dag verloop, sorg sy dat sy die middag skuins lê, of iewers deur die dag. “So nie sal ek moeg raak; dis doodnormaal.”

Sy laat die energie van haar liggaam en gemoed ver daal sodat sy weer kan opstyg. “Jy kan nie heeldag hoog sweef nie, want teen die tyd dat jy die verhoog betree, sal jy uitbrand. Ná die ruskans, eet ek iets.”

Anguelov was in 2015 koningin Elizabeth I in die opera Maria Stuarda in Kaapstad. Foto verskaf

By die teater warm sy weer op en gaan nogmaals deur die werk terwyl dit ook tyd is vir die haarversorging, grimering en kostuum, vertel Anguelov. “Dan word ek die persoon wat ek op die verhoog moet wees.”

Gevra oor die senuwees wat seker teen dié tyd moet knaag, sê sy: “Natuurlik is daar senuwees, maar nie so erg soos vroeër nie. Ek dink die ervaring moet daar wees om jou hierin te ondersteun.”

Tog kan ’n sanger nie daarsonder optree nie. “Dis adrenalien. Jy is veel wakkerder en tree baie beter op. Die opwinding is broodnodig. Ja,” gee sy toe, “ek is effens bang voor ek die verhoog betree, maar daarna kan jy nie omdraai nie, en die senuwees is vergete.”

Anguelov as Herodias saam met Allan Glassman in die opera Salome in ’n opvoering van Kaapstad-opera in 2016. Foto verskaf

Wanneer die hele gehoor se oë op jou gerig is, hoop jy vir die beste. “My mikpunt is om so goed moontlik op te tree. Dis nie aldag soos ek dit sou wou gehad het nie, maar ek strewe daarna om elke keer beter te wees wanneer ek my voete op die verhoog sit.”

Tydens ’n optrede is sy seker in aanvoeling met die gehoor? “Nee, ek is in my eie wêreld,” sê sy. “Ek is geleer: As jy as uitvoerende kunstenaar ontwikkel en groei in jou kuns, sal jy uit jouself kan klim en jouself waarneem.

LEES OOK ‘Mooi stem nie genoeg om opera te sing’ – besoekende mezzo

“Jý is die gehoor. Jy beoordeel jou eie optrede, maar ek weet in byvoorbeeld musiekblyspele vang die sangers gees uit die gehoor. Hulle hou die gehoor dop en dink byvoorbeeld: Oukei, ons moet meer humor inbring.”

Met opera is dit anders. “Dis amper asof die sangers hulle in ’n glasbottel bevind,” vertel Anguelov. “Ons tree op, ons voer die kuns self op en ons skep dit en stort al ons menslike emosies daarin uit en gee alles wat ons het.

“Ons projekteer dit na die gehoor, maar ons verwag nie noodwendig iets terug nie. Ons ‘speel’ nie vir die gehoor nie. Ons beeld die gebeure uit asof dit nou gebeur en hoop die gehoor geniet dit.”

Nog ’n toneel uit die opvoering van die opera Carmen in 2011. Foto verskaf

Sy is haar eie grootste kritikus, vertel Anguelov. “Ek hou myself van buite dop, beoordeel my stem, die karakter, hoe ek lyk … die hele vertoning. Dit gee my ’n idee van hoeveel meer ek moet gee; nie noodwendig (meer) vermaak nie, want dis nie wat ons doen nie. Ons is nie vermaak nie.”

Operasangers is meer soos ’n klassieke boek: “Dis daar vir meer as net om geniet te word.” Daarom is dit vir haar snaaks om te hoor wanneer operasangers sê: “Dis soveel pret!

“Ek het ’n probleem met die woordjie ‘pret’,” vertel Anguelov, wat heeltyds as sanglektrise aan die Universiteit van Kaapstad se musiekkollege werk. “Dalk neem ek dit te ernstig op, maar ek neem dit baie ernstig op.

Anguelov as Juliette in Die verhale van Hoffman in die Kunstekaap, 2013. Foto verskaf

“Ek sê altyd vir my studente: As jy ’n chirurg is en nie weet waarmee jy besig is, sal jy verkeerd sny. (Opera) is vir my dieselfde: As jy jouself nie ernstig opneem nie, sal die gehoor ook nie. Hulle sal net sê: ‘O, jy sing. Mooi so.’

“Maar dit gaan nie daaroor nie. Dit verg ontsettende werk om ’n produksie op die planke te bring, en dit het begin toe ek op vier begin sing het.”

OFM Nuus/Morné van Rooyen sm

 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.