On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Nolwethu
Listen Live Streams

Agri Hour

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 07:14 Thu, 02 Apr 2020

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher? | News Article

Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag, praat OFM-nuus se Christal-Lize Muller met die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher.


Sien onderstaande PODCAST


Laubscher praat oor wyses om die impak van die Covid-19-virus te versag en sê anders as die 2008/09 globale finansiële krisis, is dit moontlik om te leer hoe om aan te pas ten einde die impak van dié pandemie te probeer versag. Grenslose intydse kommunikasie is die goue draad en die deursigtigheid waarmee die nuutste omtrent die verspreiding openbaar gemaak word, skep ‘n kameraderie teen ‘n gemeenskaplike vyand. Daar is geen politieke punte te behaal deur te probeer om ‘n politieke spel te speel nie, sê hy. 

Die virus, in sy mening, ontsien niemand nie, en die aantal politieke en ander leiers wat ook reeds besmet is, is  'n duidelike bewys  daarvan. Die bestuur van die verspreiding word tog vergemaklik, omdat dit een en almal bedreig. Terwyl die voorkoming voorrang moet geniet om mense gesond te hou en te kry, moet die bestuur van die ekonomiese risikos ook aandag ontvang.

Laubscher meen die omvang van die welvaart wat vernietig is en nog gaan word namate ekonomies groeidoelwitte by die spreekwoordelike venster uit is, maak die bestuur van ekonomiese verval egter ook noodsaaklik.  Ná die pandemie moet die lewe aangaan en ekonomieë herbou word. Daarvoor is dit nodig dat belangrike fondamente staande bly deur dit te probeer versterk. Die Verenigde Nasies (VN) se Voedsel en Landbou-organisasie, FAO,  verskaf universiële punte wat toepaslik is om aan te spreek. 

Dit sluit in die instandhouding van sosiale beskerming, wat uiters noodsaaklik is. Miljoene mense ervaar huishoudelike voedselonsekerheid en die feit dat voedingsprogramme by skole ook gestop is, vererger die situasie.  Al hoe meer lande het geen ander keuse nie, as om grendeltoestande af te kondig en streng toe te pas nie.  Dit kom daarop neer dat die mees kwesbares verder blootgestel word. Hulpskemas in die vorm van voedsel koeponne, soos tydens die Tweede Wêreldoorlog, is derhalwe ‘n oorweging. Daar is reeds betaalvakansies afgekondig vir mense sonder agterstallige skuld en met ‘n maandelikse inkomste van minder as R7 500.

Daarme saam moet produkvloei van en na plase in stand gehou word en produksieprosesse moet nie gekortwiek word deur gebrekkige inset verskaffing nie. Produkte wat markgereed is, moet die markte bereik, verkieslik nie teen verhoogde transaksiekoste nie. Daar gaan noodwendig groter klem gelê word op plaaslike afnames, derhalwe moet plaaslike produksie hulp kry. Daar is baie voorbeelde wêreldwyd waarby aangehaak kan word, sê hy.

Die instandhouding van voedselkettings is ook uiters noodsaaklik en onderskeid is nodig ten opsigte van spesifieke bedryfsbehoeftes. Dit is verblydend dat die landbou as noodsaaklike sektor gesien en diensooreenkomstig behandel word.  Namate die virus sy tol gaan eis met meer mense wat besmet kan raak, kan die beskikbaarheid van arbeid egter  in gedrang kom. 

Dit was die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher, wat met OFM-nuus se Christal-Lize Muller gepraat het.


OFM-nuus





Podcasts

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.