On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Agri Hour

Goeie binnelandse tabakmark deur sluikhandel gekniehalter

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 11:04 Wed, 03 Jun 2020

Goeie binnelandse tabakmark deur sluikhandel gekniehalter | News Article

Die Suid-Afrikaanse tabakoes is dié seisoen van hoogstaande gehalte.


Dit is volgens Francois van der Merwe, 'n tabakboer en 'n direksielid van Limpopo Tobacco Processors in Rustenburg in Noordwes, wat meen die land het ook van die beste tabakboere ter wêreld. Hulle kan onder die moeilikste klimatologiese toestande steeds met die wêreld se beste tabakboere kompeteer. Daarom word plaaslike tabak in prima handelsmerke verbruik. Van der Merwe sê die binnelandse mark is uitstaande en saam met die goeie oes is die Suid-Afrikaanse regering in die proses om dié bedryf nou te kniehalter. Hy meen die plaaslike tabakbedryf se besigheid loop dood weens die verbod op tabakprodukte weens die Covid-19-inperkingsmaatreëls. Die verbod moet dringend opgehef word vir wettige tabakhandel, of die sluikhandel gaan dié bedryf in geheel kelder. Dit gebeur reeds. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...


Sien onderstaande PODCAST


Hy sê goeie gehalte tabak vir sigarette, asook pyptabak, word plaaslik geproduseer. Gesogte sigarethandelsmerke in Suid-Afrika, soos Peter Stuyvesant en Dunhill, bevat plaaslike tabak, maar die regering wil nie saamspeel nie. Verskeie betrokkenes in dié bedryf staan nou op teen die regering en pak die stryd aan om handel met wettige tabakprodukte toe te laat en sluikhandel te stuit wat in dié stadium die enigste wenners in dié situasie is. 

In terme van tabaksaad vir eie verbruik, wat nou op sosiale media te koop aangebied word, is 'n gevaarlike spel. Hy sê tabak is nie 'n verbande produk nie, maar die saadbedryf is hoogs gereguleerd en geen tabakboer sal saad aankoop as dit nie deur die bedryf gesertifiseer is nie. Daar moet aan streng standaarde voldoen word. Indien tabaksaad op die swart mark aangekoop word vir eie gebruik, is dit nie gehalte saad wat gehalte produkte lewer nie. Boere se tabaksaad vir aanplantingsdoeleindes word streng gereguleer en die aflewering daarvan op plase word gemonitor om te verseker dat daar nie saad vanaf die swartmark op plase versprei word nie, maar slegs sertifiseerde saad. 

Daarmee saam waarsku hy desperate tabakverbruikers, wat saad nou wil bekom om self aan te plant, dat dit nie 'n eenvoudige proses is nie. Dié saad moet deur verwerkingsprosesse gaan, sekere voggehalte bevat, verskeie style tabak word met mekaar vermeng en in kleiner stukke opgekerf, waarna dit by sigaretfabrieke by mengesels geplaas word. Dit is 'n gesofistikeerde proses om by die eindproduk te kom en selfgeproduseerde tabak kan gevare inhou.  

Hy sê dit beklemtoon opnuut die desperaatheid onder tabakverbruikers om dié produkte te bekom en juis daarom is dié verbod, wat deur die regering ingestel is as veiligheidsmaatreël om onder meer gesondheidsrisikos te beperk en die verspreiding van die koronavirus te verhoed, onvoldoende. 

Van der Merwe meen groot druk word uit alle oorde nou op die regering geplaas om wettige produkte te versprei, want dit versprei nie die virus nie. Tabakprodukte moet dringend beskikbaar gestel word aan verbruikers, sodat die staat belasting kan inwin en boere hul produkte kan verkoop sodat die bedryf wettig kan funksioneer.

Dit was Francois van der Merwe, 'n tabakboer en 'n adviseur in die tabakbedryf, slegs op die Agri-Uur.


OFM-nuus


Podcasts

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.