On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

Agri Hour

Agri SA soek spoedig uitsluitsel oor patrollering te midde van #Covid19

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Fri, 05 Jun 2020

Agri SA soek spoedig uitsluitsel oor patrollering te midde van #Covid19 | News Article
FOTO: Agri SA

Agri SA is positief dat die polisie op 'n hoë vlak spoedig uitsluitsel sal gee oor die patrollering van landelike gebiede deur plaas- en buurtwagte.


Dit kom nadat dit nie tydens die Covid-19-inperkingsregulasies op vlak 5 en vlak 4 toegelaat is nie. Tommie Esterhuyse, voorsitter van landelike veiligheid by Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid, sê patrollering kan wel op vlak 3 van die inperking geskied, maar slegs deur boere self op hul eie plase. Hy meen dit is egter steeds onvoldoende, veral weens 'n styging in diefstal en meer spesifiek veediefstal op plase. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepaat...


Sien onderstaande PODCAST


Hy sê nadat Agri SA sedert April van verskeie regeringsministers uitklaring soek, is daar nog geen uitsluitsel oor dié kwessie ontvang nie. Volgens hom het Agri SA op 3 April vanjaar die minister van polisie, Bheki Cele, genader vir  uitsluitsel. 

Op 8 April is navraag aan die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, gerig en op 16 April is die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, ook gevra oor uitsluitsel rondom plaas- en buurtwage, wat nie as 'n noodsaaklike diens in die Covid-19-regulasies geklassifiseer is nie. Dit het gegeld tydens vlak 5 en vlak 4 van dié inperking. Dié versoek was weens 'n toename in misdaad op plase in landelike gebiede en die tekort aan mannekrag, omdat polisielede betrokke is by polisiëring van die inperkingsmaatreëls en nie aandag kan skenk aan veiligheid op plase nie. Hy sê nog geen terugvoer is ontvang van enige van dié betrokke ministers nie. Agri SA het nie antwoorde ontvang nie.  

Esterhuyse sê dié organisasie wag nou op die afdelingskommissaris van sigbare polisiering, Moeketsi Sempe, om dié dooiepunt aan te spreek en uitsluitsel daaroor te gee.  

Intussen sê hy plaaswagte moet sover moontlik steeds probeer om reëlings met hul plaaslike polisiehoofde te tref om voort te gaan met patrollering. Daarmee saam is dit egter verblydend om te weet dat in verskeie plaaslike gebiede het stasiebevelvoerders van die betrokke polisiekantore, asook  gebiedsbevelvoerders, toestemming gegee dat daar voortgegaan kan word met plaaspatrollies in gebiede en nie slegs deur individuele boere op hul eie plase nie.  

Esterhuyse sê Agri SA is positief om in die drie komende dae uitsluitsel vanaf Sempe te ontvang, sodat daar voortgegaan kan word met patrollering van gebiede.  

Die verbod tydens die inperkingsregulasies in dié verband is in plek gestel deur die regering rondom onder meer beweging deur groepe wat die pandemie kan versprei.

Hy sê dit is duidelik daar waar boere nie patrollie ry nie en in sommige plekke waar landelike veiligheidskoördineerders nie deelneem aan die patrolering nie, was daar 'n toename in misdaad en veral veediefstal. Dit is daarom van groot belang dat boere nie verslap ten opsigte van die patrollering van gebiede nie, met of sonder die polisie. 

Indien patrollering plaasvind, moet dit in oorleg met die betrokke polisiekantore in gebiede gedoen word, daar moet steeds 'n mate van goeie samewerking tussen die landboubedryf en die polisie gehandhaaf word.

Dit was Tommie Esterhuyse, voorsitter van landelike veiligheid by Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid slegs op die Agri-Uur.


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.