On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Nolwethu
Listen Live Streams

Agri Hour

#AgriSA: Verlof tot appèl gevra teen waterregte-hofbeslissing

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Wed, 08 Jul 2020

#AgriSA: Verlof tot appèl gevra teen waterregte-hofbeslissing | News Article

Die Hooggeregshof in Pretoria se onlangse uitspraak téén die verhandeling of verkoop van waterregte word uit sommige landbougeledere as 'n vreemde uitspraak beskou.


Daarmee saam het die hof lank geneem met sy beslissing, nadat die verhoor in Oktober verlede jaar plaasgevind het. Dit is volgens Agri SA se hoof van natuurlike hulpbronne, Janse Rabie, nadat 'n volbank van die hof beslis het dit is nie meer moontlik vir 'n houer van 'n watergebruiksreg om dié reg te verhandel of te verkoop nie. Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Waterverbruikersverenigings, die Doornkraal Besigheidstrust en die De Kalk Besigheidstrust het die hof afsonderlik genader. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Rabie, gepraat...


Sien onderstaande PODCAST


Agri SA meen die uitspraak is verrassend en daar is 'n ooglopende fout met dié beslissing begaan. Rabie sê hy is verbaas oor die uitspraak en dit is dié organisasie se siening dat die hof 'n baie sterk benadering gevolg het rondom die beleid, in teenstelling met wat wetlik bepaal word. Volgens Rabie gaan daar vandeesweek verlof tot appèl gevra word waarin daar hopelik 'n suksesvolle uitkoms gaan wees. 

Volgens hom is die hof verlede jaar genader om uitklaring te gee oor die korrekte interpretering van artikel 25 van die Nasionale Waterwet, wat spesifiek voorsiening maak vir die oordrag van waterverbruiksregte van een stuk grond na 'n ander, asook van een mens na 'n ander.  Die hof se uitspraak was egter vreemd en het behels dat dit na albei kante toe geargumenteer kan word.  Dit kom neer op 'n 'ja, die oordrag is moontlik' of 'n 'nee, dit is nie moontlik nie'. Rabie meen die hof kan spesifiek ingaan op die transformasiekwessies rondom waterverbruiksregte en wie hou dit en wie doen wat daarmee. Daar is 'n spesifieke teregwysing wat in die landbousektor gehou word deur aan te voer hierdie watergebruiksregte word intern gehou, Dit word onderling gekoop en verkoop tot uitsluiting van historiese benadeeldes of mense wat tot die landbougemeenskap wil toetree. 

Rabie meen dit is egter glad nie die versoek wat aan die hof gerig is nie. Hy meen die volbank het die punt gemis in terme van die moontlikheid om waterverbruiksregte oor te dra. Agri SA, wat die Doornkraal Besigheidstrust geldelik ondersteun het en 'n beduidende belang in die uitkoms van die kwessie het, se uitgangspunt is dat waterverbruiksregte oor die doeltreffende verbruik van water gaan. Die hof voer aan dit is moontlik om dit te doen, maar jy mag nie geld vra daarvoor of dit verhandel nie. Dit beteken indien 'n boer dié regte na 'n ander stuk grond wil oordra, mag dit gedoen word, maar daar kan nie geld daarvoor gevra word nie.  


OFM-nuus


Podcasts

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.