On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret and John
Listen Live Streams

Central SA

Die boom, die liedjie, die geskenke

───   08:00 Wed, 20 Dec 2023

Die boom, die liedjie, die geskenke | News Article
Kersbome en Kersvader is sinoniem met Kersfees. Foto: onceuponachef.com

’n Jolige ou man in ’n rooi pak en ’n rendier met ’n rooi snoet was net bemarkingsfoefies.

Benewens die godsdienstige betekenis van dié heilige dag het Kersfees talle tradisies. Hier is hoe ’n paar daarvan begin het:

1. Kersfees was nie altyd op 25 Desember

Terwyl Kersfees die geboorte van Jesus Christus vier, is die werklike datum van die groot gebeurtenis ’n raaiskoot, hoewel historici dit eens is dat dit waarskynlik in die noordelike halfrond se lente gebeur het. Voor die einde van die vierde eeu het die Romeine in Desember die Fees van Saturnalië, waardeur aan die landbougod Saturnus hulde gebring is, gevier met die gee van geskenke, sang, lekker eet en die opsteek van kerse. Klink dit bekend?

2. Jy kan prins Albert vir jou Kersboom bedank

Die Kersboom het in 1821 vir die eerste keer in Brittanje verskyn nadat dit reeds vir eeue tradisie in Duitsland was. Dit het egter eers gewild geword nadat die jong koningin Victoria se Duitse eggenoot, prins Albert, in 1848 ’n Kersboom in Windsor-kasteel laat oprig het en die media, volgens royalcentral.co.uk, daaroor berig het. Die middelklas wou die koninklikes nadoen en die res is geskiedenis.

Koningin Victoria en haar man, prins Albert, en hul koninklike Kersboom. ’n Skets soos dié het daartoe gelei dat die versier van bome onder die Britse middelklas posgevat het. Foto: royalcentral.co.uk


3. Dié Kersliedjie is die liedjie met meeste weergawes

Stille Nag, wat uit 1818 dateer, is nie net die Kersliedjie wat al die meeste opgeneem is nie, maar is ook die liedjie met die meeste verskillende weergawes. Volgens die databasis SecondHandSongs.com is daar meer as 3700 interpretasies van Stille Nag.

4. Toe dit onwettig was om Kersfees te vier

In 1647 het die Puriteins-geleide Engelse parlement Kersfeesvieringe as “verkwistend en immoreel” verklaar en dit verbied ten gunste van ’n dag van vas. Die verbod is in 1660 beëindig ná jare van pro-Kersfees-betogings.

5. Kersvader en Coca-Cola

Vóór 1931 was daar baie verskillende uitbeeldings van Kersvader, sommige skrikwekkend, insluitend 'n lang, skraal man, ’n kort, lywige man en ’n man met ’n groen mantel. Die huidige uitbeelding het eers gewild geword nadat Coca-Cola ’n illustreerder gehuur het om ’n jolige ou man in ’n rooi uitrusting vir ’n advertensie te teken.

Coca-Cola sê Kersvader is ’n jolige, mollige, ouerige man in ’n rooi pak en wie is ons om te stry. Illustrasie: Coca-Cola/theuijunkie.com

6. Nat kouse word toe Kerskouse

Volgens die legende het ’n arm wewenaar se drie dogters hul pas gewaste kouse voor die vuurherd opgehang om droog te word. Die vrygewige heilige Niklaas, wat later as Sinterklaas, oftewel Kersvader bekend geword het, het deur die nag besoek afgelê en goud deur die skoorsteen af gegooi wat in die meisies se kouse beland het.

7. Rudolph was 'n bemarkingsfoefie

Rudolph, die rendier met die rooi snoet, het in 1939 sy opwagtinggemaak toe ’n kleinhandelaar in Chicago een van sy kopieskrywers gevra het om 'n Kersstorie te skep wat die winkel as 'n promosie kon versprei. Die winkel het elke jaar inkleurboeke vir Kersfees gekoop en weggegee en daar is besluit dat die skep van hul eie boek geld sou spaar.

Die storie van ’n rendier met ’n rooi snoet was net ’n bemarkingsfoefie. Foto: National Museum of American History

8. Kersklappers is deur ’n bakker uitgedink

Die eerste Kersklappers is in die middel van die 19de eeu deur 'n Londense bakker, Tom Smith, vervaardig. Die whychristmas.com-webwerf sê hy het aanvanklik lekkergoed en 'n gedrukte raaisel of slagspreuk in gekleurde papier toegedraai, maar blykbaar het die idee van 'n knallende klapper by hom posgevat terwyl hy voor 'n knetterende vuur gesit het.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen CG


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.