Central SA
Nuwe rybewyskaarte teen einde April verwag─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:39 Wed, 10 Apr 2024

“Die kaart word vervaardig van 100%-polikarbonaatmateriaal en sal spesifieke sekuriteitselemente bevat sodat niemand daarmee kan peuter nie.”
Suid-Afrika kry glo einde vandeesmaand nuwe rybewyskaarte. Dit sal agt jaar geldig wees vergeleke met die huidige lisensiekaarte se vyf jaar.
Op ’n mediakonferensie Woensdag (10/4) het Sindisiwe Chikunga, minister van Vervoer, gesê die departement is in die finale stadium van die verkryging van ’n nuwe drukmasjien vir die kaarte. Die drukwerk sal na verwagting binnekort sal begin.
Chikunga het bevestig dat die departement die nuwe rybewyse voor einde April sal druk en beoog om minstens die eerste 100 per provinsie bekend te stel.
‘Die nuwe kaarte sal in lyn wees met internasionale standaarde‘
Die nuwe rybewyse, oorspronklik geskeduleer vir Maart, sal nou verbeterde sekuriteitsmaatreëls bevat, insluitend biometriese data, hologramme en watermerke, om bedrog te bekamp en padveiligheid te verbeter. Volgens Chikunga sal die nuwe kaarte in lyn wees met internasionale standaarde en nuwe tegnologie insluit.
Die voorkant van die kaart sal noodsaaklike inligting soos die bestuurder se naam, geslag, geboortedatum, ID-nommer en lisensiebesonderhede bevat, asook ’n foto en handtekening. “Die kaart word vervaardig van 100%-polikarbonaatmateriaal en sal spesifieke sekuriteitselemente bevat sodat niemand daarmee kan peuter nie,” het Chikunga gesê.
“Opmerklike sekuriteitsopgraderings sluit in ’n sekondêre beeld van die lisensiehouer se gesig, mikroteks, tasbare kenmerke en ’n sekuriteitsagtergrond, wat oorvleuel met die beeld van die houer.
OFM Nuus cg