Central SA
Ruben die leeu se dood diep betreur─── KAREN VAN DER BERG 08:23 Fri, 12 Apr 2024

“Die afgelope sewe maande was Ruben die grootste inspirasie vir ons. Sy storie het mense se hart aangeraak. Ons sal hom nooit vergeet nie.”
Vaarwel Ruben, jy het ons lewe opgehelder.
Met dié hartseer afskeidsboodskap het Karen Williams, direkteur van Animal Defenders International (ADI) se natuurreservaat naby Winburg in die Vrystaat, afskeid geneem van dié geliefde leeu.
Ruben het Augustus die harte van mense landwyd gesteel toe OFM Nuus berig het hoe ADI hom gered en na Suid-Afrika gebring het. Hy is tussen 15 en 17 jaar gelede in ’n privaat dieretuin in die Wes-Asiese land Armenië gebore.
Die eienaar van die dieretuin is sowat ses jaar gelede oorlede, en die familie wou al die diere uit die dieretuin verwyder het. Almal het ’n nuwe tuiste gevind, selfs al die leeus, behalwe Ruben. Hy het vyf jaar alleen agtergebly. Die eensaamheid was só erg dat Ruben ophou brul het.
Williams sê die 15 jaar van wanvoeding en sy lewe in aanhouding het eenvoudig sy tol geëis en die effek daarvan was te groot. “Ons het aanhou veg vir hom, maar kon nie genoeg doen nie.” Die veearts dr. Peter Caldwell het alles in sy vermoë gedoen om Ruben te red, al het hulle ook van die begin af geweet sy toestand was baie swak.
“Ruben het vroeër die week ’n stuipeaanval gekry. Sy bene het ook begin om te disintegreer en sy ruggraat beskadig. Die medikasie waarop hy was, het van sy simptome verlig, maar dit was nie genoeg om die skade wat opgedoen is, om te keer nie.”
Williams sê hoewel hulle tydjie met Ruben heeltemal te kort was, sal hulle dit weer doen as hulle kon. “Om die paar maande saam met hom te beleef hoe gelukkig hy was, was beslis die moeite werd. Ons sien selde dat ’n dier wat so baie deurgemaak het, so lewenslustig is.”
Sy sê Ruben se lewenslus en die manier hoe hy aangepas het en die Afrikason ingeneem het, was wonderlik om te beleef. “Toe ons Ruben die eerste keer in Armenië gesien het, was hy in ’n verskriklike swak toestand. Hy was kwaad en agterdogtig. Hy kon ook skaars beweeg en het geval wanneer hy moes loop.”
Met sy nuwe lewe hier by die ADI het dit gelyk of hy almal wou bewys dat hy sy slegte omstandighede te bowe sou kom. Hy het gespeel en begin brul.
Ruben het gespeel en begin brul. Foto: ADI
“Die afgelope sewe maande was Ruben die grootste inspirasie vir ons. Sy storie het mense se hart aangeraak. Ons sal hom nooit vergeet nie.”
Op sosiale media het die nuus van sy dood ook wyd kommentaar uitgelok en mense van oor die wêreld heen betreur sy dood.