Central SA
Reddersburg-kinderhuis: Hoe kan ek help?─── MORNÉ VAN ROOYEN 13:52 Mon, 23 Sep 2024

“Die beste is, as jy wil kom, gee ons ’n luitjie voor die tyd, dan sê ons vir jou. Ons het ’n behoeftelys wat ons weekliks opgradeer.”
Reddersburg se kinderhuis is gerieflik geleë op die N6 tussen Bloemfontein en Oos-Londen, maar beteken dit weldoeners kan sommer daar kom stilhou en skenkings afgee?
Hul behoeftes is baie seisoensgebonde, vertel Danie Noëth, hoof van die President Kruger-kinderhuis. Daarom is dit beter dat mense eers kontak maak en hoor wat hulle nodig het.
“Ons het ’n lieflike swembad. In die somer het ons sonroom nodig en dit is besonder duur,” verduidelik Noëth. “Almal kan nie noodwendig 60 potjies – een vir elke kind – bekostig nie, maar jy kan twee bottels koop.”
Die kinderhuis is ’n baken van hoop in die lewe van kinders uit moeilike huislike omstandighede. Foto: Morné van Rooyen
Die staat voorsien net 50% van hul begroting, waarmee 62 kinders van drie tot 18 versorg word. Feitlik al die kinders het minstens een ouer, maar is weens swak huislike omstandighede uit hul ouerhuis verwyder.
Nog 15% van die begroting kom van die Gereformeerde Kerke, wat die instelling in 1961 vir sy eie kinders gestig het, al kom nie een van die inwoners nou uit ’n Gereformeerde huis nie. Tog ontferm gemeentes landwyd hulle steeds oor die kinderhuis en skenk gereeld klere, kos en bederfies.
“Dan kry ons die res van individue wat ons maar net goedgesind is,” vertel Noëth, wie se grootste taak is om die oorblywende 35% in te samel. “En dis maar waaroor ons bemarking baiekeer gaan.”
Dis ’n voltydse uitdaging om meer as 60 honger magies drie maal per dag, sewe dae per week te vul met voedsame kos. Foto: Morné van Rooyen
Omstreeks die begin van elke skooljaar het hulle ’n groot behoefte aan skryfbehoeftes. “Dis wanneer ons boeke en goed uitdeel. Ek kan vir jou sê ons rekening verlede jaar was so amper R30 000, maar dit is met meer as die helfte afgebring deur mense wat vir ons skenkings gegee het.”
Met vyf dosyn groeiende kinders in hul sorg bly kos ’n groot behoefte. Hulle is veral lief vir vleis, al skerts Noëth hy mag seker nie daarvoor vra nie. “Ons eet vleis; ons braai. Ons het nie verniet vier braaiers op die terrein nie.
“Ons het ongelooflik baie skenkings in die winter gehad van wildsvleis. Ons het mense wat ons help om dit so op te gradeer, daai vleis … hier’s nie een kind wat sal weet hy eet wild nie. Dan maak ons maalvleis, wors en selfs steakies en alles met dit.”
Als wat ’n huis nodig het, maal 60
Maar geen kosskenking hou vir altyd nie. “Ek wil sê: Februarie, Maart se kant toe, dan raak dit vir ons ’n krisis, want dan is dit ander vleis wat ons moet aankoop, so dit wissel baie.”
Die kinderhuis het alles nodig wat enige huishouding met ’n kind kan nodig kry, maar net 60 maal meer. “Ons het baiekeer toiletware nodig, maar nie noodwendig alles nie, want ons het dalk net die vorige week ’n klomp tandeborsels gekry.
Soms verras weldoeners hulle, soos die Bloemfonteinse sakeman wat ’n leë vertrek in ’n gim omskep het met sy skenking van toerusting. Foto: Morné van Rooyen
“So, die beste is, as jy wil kom, gee ons ’n luitjie voor die tyd, dan sê ons vir jou. Ons het ’n behoeftelys, wat ons weekliks opgradeer. Dit is ons behoeftes nou. Maar ek kan die mense verseker daar’s niks wat hiernatoe kom, wat nie gebruik word nie.
“Tweedehandse klere word reggemaak en uitgesoek wat ons kan gebruik: die goeie klere vir dra, die swakker klere vir die middag se speel en dié wat ons sien nou nie meer kan werk nie, ons het ’n kinderhuis net anderkant Ladybrand met 130 kindertjies, en dan stuur ons al ons ou klere weer vir hulle. So dis nie asof dit verlore gaan nie. Ons gebruik enigiets.”
Kragrekening breek sy moed
Noëth vertel danksy sonkrag is hulle reeds sowat 80% van die kragnetwerk af, “maar dan kry ek vandag weer ’n rekening, en ek besef ek het nou twee weke bemarking gedoen net om ’n Eskom-rekening te betaal. En dit breek ’n ou se moed.
“Ek dink dit is ook op die oomblik ’n gevaarteken vir die toekoms. As ons nie dringend iets daaromtrent gaan doen nie, gaan ons toemaak, want dit raak so erg dat ons elke jaar nou ver (oor) ons begroting daarmee gaan.” ’n Skenking om hiermee te help, sal ook vir hulle gebedsverhoring wees.
• Bel die kinderhuis tydens kantoorure by 051 553 0086 om te hoor wat hulle nodig het.