Central SA
NUUS PAS IN: Polisie aangekeer in ontvoering van Martie du Plessis-leerder─── 16:43 Sun, 08 Jun 2025

’n Polisiesersant sal binnekort in die hof verskyn in verband met die ontvoering van ’n leerder aan die Martie du Plessis-skool in Bloemfontein.
Nadat die 42-jarige ingebring is vir ondervraging, het lt.genl. Baile Motswenyane, Vrystaatse polisiekommissaris, die polisiediens se verbintenis daartoe herbeklemtoon om agter die kap van die byl te kom in dié misdaad.
“Die ondersoek is nou in ’n deurslaggewende stadium.
“Enige polisiebeampte se betrokkenheid by misdadige optrede sal nie geduld word nie. Oortreders sal aan die pen ry, selfs al is hulle in ons eie geledere.”
Vroeër is berig twee mans, wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het, het Kamogelo Baukudi (19), ’n gr. 11-leerder aan die spesiale skool in Fichardtpark, Donderdag (5/6) ná skool ontvoer.
Dit blyk nou minstens een van die vermeende ontvoerders was na bewering werklik ’n polisiebeampte.
Baukudi is ná skool opgelaai deur ’n bestuurder in diens van sy ouers, het die skool vroeër bekendgemaak. Hulle is blykbaar agtervolg en voorgekeer in Vereenigingrylaan.
“Ons kan bevestig dat die polisie my Donderdagaand van die voorval in kennis gestel het om te verneem of ek enigsins kon help,” het Francois van Heerden, Martie du Plessis se skoolhoof, gesê. Hy het later daardie aand met Baukudi se ma gepraat en die ontvoering is bevestig.
Daniel Malebatso, wat die slagoffer by die skool opgelaai het, was omstreeks 12:00 met hom op die Erlichpark-verlenging van Vereenigingrylaan onderweg, toe hy ’n sirene agter hulle hoor.
Insittendes van ’n wit Toyota Hilux GD-6-dubbelkajuitbakkie, toegerus met blou “polisieligte”, het hulle laat aftrek.
“Binne-in die Hilux was twee onbekende mans, van wie een ’n polisie-uniform gedra het en die ander een ’n blou sweetpak,” het Thabo Covane, Vrystaatse polisiewoordvoerder, gesê.
Volgens die bestuurder se beskrywing het die bakkie ook ’n radio gehad soos dié wat die polisie gebruik. “Die verdagte het Malebatso genader en ingelig die Suzuki Ertiga wat hy bestuur, word vermoedelik gebruik om dwelms mee af te lewer,” het Covane gesê.
Polisie vra hulp
Malebatso is gelas om alleen vooruit te ry na die Parkweg-polisiekantoor, terwyl die verdagtes die 19-jarige daarheen sou gebring het. Hy het die Hilux kort daarna uit die oog verloor. Hy het later aan die polisie gesê een van die verdagtes het vlot Sesotho gepraat.
Enigeen met inligting oor die voorval, kan lt.kols. Kelaotswe Lebodi by 082 527 6348 of David Ramasoala by 082 527 7390, of kapt. Sabata Jafta Moseme by 082 526 2713 nader.
So nie, bel Stop Misdaad by 08600 10111.
OFM Nuus cg