On Now
Weekends 19:00 - 20:00
Nuut in Afrikaans Nikki
Show Background
NEXT: 20:00 - 22:00 Sunday Night with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Vroue in aanhouding ná beweerde aanranding van bejaarde in Welkom

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:57 Sun, 13 Jul 2025

Vroue in aanhouding ná beweerde aanranding van bejaarde in Welkom | News Article
Lynette Brummer, Nomsa Ngcongwane, Prudence Majorobella en Anna Fourie. Foto: Vista

Die vier vroue word daarvan aangekla dat hulle ’n vrou (81) in ’n Vrystaatse ouetehuis na bewering aangerand het. Hulle moet weer Maandag (15/7) in die hof verskyn.

Die staat het egter aangedui dat hy borgtog sal teenstaan. Lynette Brummer (64), Anna Fourie (73), Nomsa Ngcongwane (56) en Prudence Majorobella (35) het Vrydag (11/7) in die landdroshof verskyn nadat ’n inwoner by die Silver Village Assisted Living Facility in Welkom glo aangerand is.

Die aanklagte sluit in poging tot moord, ontvoering, aanranding en die oortreding van die Wet op Ouer Persone 13 van 2006. Poging tot moord en sekere aanrandings is bylae 5-oortredings, terwyl ontvoering onder Bylae 6 val wat borgtog moeiliker maak om te verkry, sê sgt. Palesa Thabana, polisiewoordvoerder.

Van die beserings wat die vrou opgedoen het. Foto: Vista

Die beskuldigdes is Woensdag (9/11) in hegtenis geneem ná ’n ontstellende video en foto's wat glo by die fasiliteit geneem is. Dit wys dat die bejaarde vrou, slegs bekend as Hester, aan uiterste verbale, fisiese en emosionele mishandeling onderwerp word.

Volgens polisie- en hofstukke is die vrou wat slegs 40 kg weeg se hande vasgebind sodat sy nie kon beweeg nie. Op die beeldmateraal kan verskeie kneusplekke aan haar hande, gesigbeserings, bloeiende lippe van die kleefband, en veelvuldige skrape gesien word.

Skermgreep van die beweerde aanranding. Foto:Vista

Brummer, die fasiliteit se bestuurder, is in die beeldmateriaal as een van die primêre aanvallers geïdentifiseer.

Volgens Thabana kan nog moontlike inhegtenisnemings volg en bykomende aanklagte bygevoeg word.

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.