On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-hoof verstaan nie debat in media oor sy skool se langer ure

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:30 Mon, 11 Aug 2025

Noordwes-hoof verstaan nie debat in media oor sy skool se langer ure | News Article
Wessie van der Westhuizen, hoof van die Hoërskool Zeerust. Foto: Hoërskool Zeerust

Die hoof van ’n skool in Noordwes het sy frustrasie uitgespreek omdat die skool se besluit dat sommige leerlinge tot 16:00 skool moet gaan, nou wyd in die media bespreek word. Hy voel sy skool word onregverdig geteiken en die aandag is onnodig.

Wessie van der Westhuizen, hoof van die Hoërskool Zeerust, het Maandag (11/8) aan OFM Nuus gesê hy gaan nie veel kommentaar lewer op die besluit nie. Die skool is nie die enigste met verlengde ure nie. “Daar is baie ander skole met soortgelyke reëlings,” het hy gesê. Hy verstaan nie waarom dit ’n besprekingspunt in die media geword het nie.

DIe skool het ’n kennisgewing op sy Facebook-blad gedeel wat lui dat leerlinge nou nie meer in skoolure aan sport mag deelneem nie en dat van hulle tot 16:00 sal moet skoolgaan. Dit is weens die “teleurstellende Junie-eksamenuitslae”. Die besluit was glo ’n “departementele besluit” deur Noordwes se onderwysdepartement.

Die verlengde skoolure, van 8:00 tot 16:00, geld van Maandae tot Donderdae en het op 29 Julie in werking getree. Volgens Van der Westhuizen is dit nou slegs matriekleerlinge wat tot 16:00 by die skool moet bly.

Besluit ‘kan nadelige invloed op kinders hê’

Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, sê aan OFM Nuus dat dit prysenswaardig is dat die skool sterk klem plaas op leerlinge se prestasie, hoewel sy glo dat die besluit moontlik ’n nadelige invloed op groeiende kinders kan hê. “Dit is belangrik om te erken dat dit dikwels te laat is om akademiese kwessies eers aan te pak wanneer leerders matriek bereik.”

Sy sê wanneer daar ’n krisis ontstaan net voor die rekord- of eindeksamen, dui dit gewoonlik op dieperliggende, langdurige kwessies. “Die probleem begin nie in gr. 12 nie – dit kan dikwels teruggevoer word na gr. R of gr. 1, wanneer die fondament vir leer stewig gevestig moet wees.”

Bailey meen indien kinders nie vroeg geleer word om met begrip te lees nie, of as hulle slegs geleer word om wiskunde te memoriseer sonder om die konsepte te internaliseer, word hulle blootgestel om later in hul akademiese reis voor uitdagings te staan te kom.

Moedertaalonderrig ‘moet vroeg geprioritiseer word’

“ ’n Stewige fondament is van kardinale belang. As ons ernstig is oor die verbetering van matriekuitslae en leerlingprestasie moet ons begin fokus op gehalte-onderwys van die vroegste grade af. ’n Sterk begin in die vroeë jare verseker dat selfs al het ’n kind later met swak onderrig te kampe – of het die kind, soos dikwels in landelike gebiede gebeur, glad nie ’n onderwyser nie – kan hulle dit steeds te bowe kom deur selfstudie of met die hulp van ’n ander opvoeder, want hul fondament is stewig.”

Sy sê nog ’n kritieke punt is die taal van onderrig. “Vir ware vordering in onderwys moet ons moedertaalonderrig in die vroeë jare prioritiseer. Solank ons aanhou om die meeste leerders in ’n tweede of derde taal te onderrig, sal ons sukkel om betekenisvolle verbetering te sien – ongeag hoe die matriekslaagsyfers aangebied word.”

Sy sê om resultate te oordryf sonder om die onderliggende probleme te hanteer is kunsmatig – alles mag dalk goed lyk op die oppervlak, maar daar is nie werklike vordering nie.

Alana Bailey. Foto: Wikipedia

Volgens Bailey moet sukses nie gemeet word aan die matriekslaagsyfer nie, maar aan die aantal leerlinge wat glad nie matriek haal nie – diegene wat uitval of teruggehou word voordat hulle selfs die kans kry.

“Die werklike oplossing vir hierdie kwessies lê in konsekwente gehalte-onderrig van die begin af – gelewer in ’n taal wat die leerling die beste verstaan.”

Volgens Mphata Molokwane, woordvoerder van Noordwes se onderwysdepartement, het die departement nuwe ondersteuningsmaatreëls ingestel in reaksie op die gemiddelde matriekslaagsyfer in die Junie-eksamen, wat op 67% te staan gekom het. Hy het verduidelik dat hierdie ingrepe spesifiek ontwerp is om gr. 12-leerlinge te help en dat dit duur tot die begin van die voorlopige (rekord-) eksamen.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.