Central SA
Groot eer vir spraak-en-taalterapeut van Bethlehem─── SUSAN MARÉ 11:56 Mon, 18 Aug 2025

Die Mail & Guardian het ’n spraak-en-taalterapeut van Bethlehem aangewys as een van 200 jong Suid-Afrikaners wat uitmuntend presteer in hul beroepsveld.
Liezel McDuling is een van die tien presteerders uit die meer as 5 000 benoemdes in die afdeling vir opvoedkundiges onder 35 jaar. Sy word geloof as buitengewoon talentvol en innoverend, en vir haar leierskap in haar loopbaan.
Dat sy ’n verskil binne en buite haar gemeenskap maak het ook in haar guns getel.
Liezel McDuling is uit die meer as 5 000 benoemdes aangewys as een van die tien presteerders in die afdeling vir opvoedkundiges onder 35 jaar. Foto verskaf
McDuling het op Bethlehem grootgeword en was ’n leerling aan die Primêre Skool Jordania en Hoërskool Witteberg. Ná matriek het sy ’n meestersgraad in vroeë kinderintervensie aan die Universiteit van Pretoria behaal en ’n B.A. in spraak-taal-en-gehoorterapie aan die Universiteit Stellenbosch.
As pediatriese terapeut ondersteun sy meer as 50 kinders met ontwikkelingstoestande, waaronder outisme, downsindroom en serebrale gestremdheid.
Sy konsentreer veral op inklusiewe onderwys, konteks-sensitiewe sorg en die bemagtiging van gesinne, versorgers en opvoeders met praktiese kommuniskasiestrategieë.
Die Mail & Guardian het Liezel McDuling aangewys as een van 200 jong Suid-Afrikaners wat uitmuntend presteer in hul beroepsveld. Foto verskaf
Op Bethlehem, waar sy haar praktyk gevestig het, bied McDuling dinamiese programme aan wat taal, vroeë geletterdheid en ouditiewe verwerkingsvaardighede versterk, veral vir tweedetaalleerders. Sy ontwikkel taalstimuleringsgidse vir gemeenskappe met gebrekkige hulpbronne en lewer teleterapie (soos Zoom-onderrig) vir beter toegang.
Sy oorbrug kliniese kennis met praktiese innovasie.
Versteekte skatte in stories
Storiespeurders is ’n prettige, aksiebelaaide weeklikse lesprogram wat ontwikkel is om taalvaardighede, vroeë geletterdheid en ouditiewe verwerking aan te pak. Leerders word in groepe verdeel vir die storie van die week.
Aktiwiteite wat op die storie gegrond is, word dan saam met die leerders uitgevoer om verskeie vaardighede aan te leer.
‘Leerders kry nie meer daagliks die geleentheid om doeltreffend te luister nie’
“Die feit dat die meeste ouers nie meer vir kinders in hul vroeë ontwikkelingsfases kinderboeke voorlees nie, het my geïnspireer om ’n program te ontwikkel wat hierdie uitdagings (die hoof bied). Dis hoe Storiespeurders (Story Detectives) gebore is.”
McDuling sê leerders kry nie meer daagliks die geleentheid om doeltreffend te luister nie weens die vinnige pas waarteen daaglikse aktiwiteite aangepak word en weens tegnologie, wat die plek van natuurlike interaksie inneem.
Vaardighede wat Storiespeurders-leerders aanleer, is onder meer om opdragte uit te voer en feite en getalle uit die storie te onthou.
Liezel help kinders privaat of in groepe en is ook betrokke by die Outisme-Lighuis, wat deel uitmaak van die Bethlehem-tutorsentrum (BTS). Hier word ’n heenkome gebied aan kinders met spesiale onderwysbehoeftes soos outisme.
Die Outisme-Lighuis is ’n projek van ChangeNetSA op Bethlehem onder leiding van Justus Scott en sy vrou, dr. Anita, wat welbekend is vir haar onderrig in wiskunde.
“Dis elke keer vir my vreugde wanneer ’n kind sy eerste woordjie kan praat of om te ervaar hoe ’n kind se woordeskat en sinskonstruksie verbeter,” vertel McDuling.
“Dis uiteraard ’n vermoeiende en uitdagende werk, veral op emosionele vlak. As ek verskille sien as gevolg van die spraak-en-taalterapie is dit ’n groot bemoediging.”
Dr. Sadna Balton, hoof van die departement spraak-taalterapie en oudiologie aan die Chris Hani Baragwanath- akademiese hospitaal in Gauteng, is een van haar rolmodelle. “Sy is ’n voorstander van die regte van alle individue en hul gesinne wat kommunikasie-uitdagings ervaar.
“Haar volharding en toewyding om ’n reeks aktiwiteite te lei om hierdie individue te ondersteun, is eienskappe wat ek baie bewonder. Dit het my geïnspireer om daagliks vir kinderregte te pleit.”
Liezel McDuling het ’n program ontwikkel om in die leemte te voorsien wat ontstaan omdat die meeste ouers nie meer vir kinders in hul vroeë ontwikkelingsfases kinderboeke voorlees nie. Foto verskaf
McDuling vind inspirasie en aanmoediging vir haar werk in wat die gevierde Amerikaanse skrywer, digter, menseregteaktivis en opvoedkundige dr. Maya Angelou op ’n keer gesê het: “You have no idea what your legacy is. Your legacy is every life you have touched. Your legacy is every person you’ve met whose influence is felt by you.”
Sy is dankbaar vir die erkenning wat sy vir haar werk gekry het van die Mail & Guardian. “Ek hoop dit motiveer en inspireer ook ander terapeute. Alle soorte terapie is belangrik vir kinders wat dit nodig het – ek gee erkenning en eer aan ander terapeute wat ook hard werk om kinders se lewe beter te maak.”