On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Uitspraak kom dalk dié week ná jare lange vete in Welkom

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:00 Thu, 04 Dec 2025

Uitspraak kom dalk dié week ná jare lange vete in Welkom | News Article
Daniel en Anna Fourie buite die hofsaal. Foto: Charne van der Merwe

Die ses jaar lange hofstryd tussen ’n Goudveldse oudpolisiekaptein en sy vrou staan vandeesweek einde se kant toe wanneer die verdedigingspan en die staat Donderdag (4/12) hul slotbetoë aanbied.

Daniel Jacobus Fourie en sy vrou, Anna Francina, keer terug na die Welkomse streekhof vir wat beloof om ’n tweedaagse sitting te wees. Die hof kan moontlik Vrydag ’n datum vir die langverwagte uitspraak vasstel. 

Vonnisoplegging word voor einde vandeesmaand verwag. Hulle staan tereg op aanklagte van intimidasie en crimen injuria ná ’n langdurige vete met die broers Manny en José Jardim.

‘Alle bewerings teen haar ontken’

Tydens kruisondervraging deur adv. Allen Simpson, staatsaanklaer, op 3 November het Anna alle bewerings teen haar ontken, waaronder bewerings van teistering, intimidasie en die stuur van dreigende boodskappe aan lede van die Jardim-familie.

Die staat het aangevoer die egpaar se beweerde gedrag hou moontlik verband met vermoedens dat een van die klaers die pa van die egpaar se oudste seun is.

Welkom: Voormalige polisiebeampte ontken bewerings in verklaring  | News Article

Daniel Jacobus Fourie en sy vrou, Anna Francina, by die hof. Foto: Charne van der Merwe

Tydens vroeëre getuienis het Simpson vir Daniel uitgevra oor die gebruik van aanstootlike terme soos “Porra-scum” en “verkragter” met verwysing na een van die Jardims, insluitend graffiti wat oor die Goudveld heen gevind is. Hy wou weet of dié optrede verband hou met kommer oor wie die kind se biologiese pa is.

Daniel het voorheen aan die hof gesê hy het een van die klaers vir die eerste keer in 2013 ontmoet toe hy ’n vark by hom gekoop het. Hy het beweer dit was die eerste en enigste kontak tussen hulle. 

Manny Jardim het egter onder eed getuig hy het Anna wel geken wat die egpaar se verklarings weerspreek.

’n Boodskap op ’n selfoon wat deel vorm van die ondersoek. Foto verskaf

In 2021 het die staat ’n DNS-toets versoek om die vaderskapskwessie op te klaar, wat Daniel aanvanklik geweier het. Hy het op 15 Augustus aan die hof gesê hy is bereid om die toets te ondergaan, maar het sedertdien sy samewerking onttrek. 

Hy het ook geweier om ’n foto van die kind hof toe te bring nadat hy deur sy regsverteenwoordiger aangeraai is.

Van die graffiti wat ter sprake is in die saak. Foto verskaf

Simpson het verskeie voorvalle met die Jardims uitgelig, waaronder ’n beweerde telefoonoproep waarin Daniel valslik beweer het dat hy na Manny soek weens ’n kamma-lasbrief van ene “kapt. Van Staden” van die polisie op Ladybrand. Die staat het dit ’n doelbewuste daad van intimidasie genoem.

Ander bewerings sluit in geskille oor varkverkope, die beweerde diefstal van ’n bul, ’n aangemelde motorjaagtog in Welkom en bewerings dat Daniel onwelvoeglike gebare teenoor die Jardims se suster, Irene de Fratas, gemaak het.

Dreigende boodskappe

Die staat het ook nege dreigende boodskappe aangebied wat na bewering deur Daniel aan drie Jardim-familielede gestuur is. Sommige is na bewering ook aan Anna gestuur om die indruk te wek dat sy ook geteister word. 

Volgens Simpson is honderde bykomende boodskappe gestuur vanaf ’n nommer wat gekoppel is aan die egpaar se huisfoon, waartoe Daniel bevestig het slegs hy en Anna toegang gehad het.

Die Jardims is in hierdie graffiti geteiken. Foto verskaf

Die verhoor is met die jare meermale vertraag, onder meer deur ’n doktersbrief wat namens Anna ingedien is en waarin beweer is sy het brongitis gehad en Daniel se versoek om ’n tolk, ten spyte daarvan dat hy voorheen vrae in Engels beantwoord het.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.