Central SA
Selfdood in Mediclinic Bloemfontein bevestig─── 12:54 Mon, 15 Dec 2025
’n Ouerige man is Maandagoggend (15/12) oorlede nadat hy glo in ’n privaat Bloemfonteinse hospitaal van die vierde verdieping na sy dood gespring het.
Mediclinic Bloemfontein bevestig by navraag dat daar ‘n voorval vas, maar wou geen besonderhede oor die voorval of die pasiënt verskaf nie. Volgens inligting het die man in die deel van die hospitaal na benede gespring waar ná vorige voorvalle ‘n net gespan is om selfdoodpogings te verhoed.
Hy het glo by ‘n deel gespring waar die net hom nie kon stuit nie. Die man het blykbaar ernstige kopbeserings opgedoen. Hoewel mediese personeel hul bes gedoen het, het hy gesterf.
In September 2014 het ’n Kovsie (19) in sy tweede jaar van die sewende verdieping in die hospitaal na sy dood gespring.

Personeel sing tydens Paasfees vanjaar geestelike liedere in die atrium van die hospitaal. Foto: Facebook
Die hospitaal het ná dié voorval mediese en traumaondersteuning gebied aan almal wat daardeur geraak is, insluitend ondersteuning aan twee omstanders wat probeer het om die student te keer.
News24 het in April 2013 berig ’n 46-jarige van Bloemfontein het gesterf nadat ook sy van die sewende verdieping af gespring het.
Die vrou, wat luidens berigte voor die voorval psigiatriese behandeling ontvang het, was saam met haar man by die hospitaal waar sy vir behandeling opgeneem sou geword het.
Veiligheidsnet gespan
Ná hierdie voorvalle het die hospitaal bevestig ’n veiligheidsnet is aangebring om nog selfdoodpogings te voorkom. Die net is spesifiek oor die atrium gespan waar die vorige spronge plaasgevind het. Maar blykbaar kan dit plek-plek omseil word.
Die hospitaal het nie Maandag gereageer op vrae oor of enige verdere stappe gedoen word om sulke voorvalle te voorkom nie.
Gevaartekens
Let op die volgende gevaartekens:
- Gedagtes van selfdood of selfbesering: Enige gedagtes om jou eie lewe te neem of jouself te beseer moet ernstig opgeneem word. Kry onmiddellik professionele hulp.
- Gevoel van hartseer of hopeloosheid: Dit is gevaarlik wanneer jy vir meer as twee weke neerslagtig voel, gereeld huil of belangstelling verloor in aktiwiteite wat jy voorheen geniet het.
- Swak werksprestasie: Om nie te hou by sperdatums nie en nie vergaderings by te woon nie, kan dui op geestesgesondheid wat agteruitgaan.
- Sosiale onttrekking: Om vriende, werksgesellighede of sosiale aktiwiteite te vermy kan ’n teken van emosionele moegheid of angs wees.
Vir enige hulp, besoek die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) se webtuiste of bel 08600 567 567.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus cvs

