Central SA
Verdagtes aangekeer ná sakeroof naby Bethlehem─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:26 Tue, 16 Dec 2025
Vier verdagtes van die Vrystaat sal na verwagting Woensdag (17/12) in die hof verskyn ná ’n deurbraak in ’n saak van sakeroof wat verlede maand aangemeld is.
Hulle is in hegtenis geneem deur die Bohlokong-polisie in samewerking met Bethlehem se eenheid vir openbare orde. Die saak hou verband met ’n sakeroof by ’n snoepwinkel in Bohlokong.
“ ’n Buitelandse sakeman (25) is op 28 November na bewering met ’n vuurwapen gedreig waarna hy van kontant, ’n selfoon en motorsleutels beroof is,” sê ao. Mmako Mophiring, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
Die polisie het met die inhegtenisneming ook beslag gelê op ’n ’n ongelisensieerde vuurwapen, ammunisie en gesteelde items.
Vier verdagtes
Volgens Mophiring is die slagoffer omstreeks 19:30 in sy snoepwinkel in Bohlokong deur die vier verdagtes oorval. Hulle het later te voet gevlug.
“Byna twee weke later het die polisie inligting ontvang oor die verblyfplek van die verdagtes wat gelei het tot die inhegtenisneming van die eerste verdagte (35) in Bohlokong, sê Mophiring.
Later dieselfde dag het die Bohlokong-polisie inligting oor die oorblywende verdagtes ontvang. Die span het na Uitbreiding 1 in Bohlokong gegaan waar drie verdagtes by ’n huis in hegtenis geneem is.
Ongelisensieerde vuurwapen
Die vuurwapen is in Phuthaditjhaba as gesteel aangemeld. Die verdagtes sal binnekort in die landdroshof op Bethlehem verskyn.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427

