On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

‘Só mors Vrystaatse premier nog geld’ – VF Plus

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:47 Tue, 16 Dec 2025

‘Só mors Vrystaatse premier nog geld’ – VF Plus | News Article
Armand Cloete. Foto: VF Plus

Nog ’n politieke party het uitgevaar teen wat beskryf word as voortdurende finansiële wanbestuur in die Vrystaat.

Die provinsiale leierskap word daarvan beskuldig dat hulle onnodige besteding prioritiseer ten koste van dienslewering. Kommer is geopper nadat miljoene rand in bykomende befondsing goedgekeur is ondanks toenemende onreëlmatige besteding en sukkelende departemente.

Volgens die VF Plus het die Vrystaatse wetgewer Donderdag (11/12) ’n aanpassingsbegroting goedgekeur wat ’n bykomende R7 miljoen vir die kantoor van die premier Mxolisi Dukwana insluit. Die party het die stap teengestaan, sê Armand Cloete, VF Plus-wetgewerlid

“Die premier vra steeds vir meer befondsing, terwyl die ANC-beheerde wetgewer dit steeds goedkeur.”

Mxolisi Dukwana. Foto verskaf

Die party voer aan die premier se departement is nie ’n diensleweringsdepartement nie en enige verhoging van meer as R630 miljoen op sy oorspronklike begroting is ’n skande.  

Cloete sê in plaas daarvan om bykomende geld aan te vra moet die premier fokus op die voorkoming van verliese binne provinsiale departemente wat reeds R32 miljoen in die huidige boekjaar beloop het.

Die VF Plus beweer ook die bykomende befondsing word aangewend vir wat dit beskryf as “nuttelose projekte”, insluitend R11 miljoen vir sogenaamde gemeenskapsontwikkelingswerkers, R1,5 miljoen vir 'n G20- verwante geleentheid, R3 miljoen om geslagsgeweld tot ’n ramp te verklaar en R2 miljoen vir 'n SMS-indaba.

Onreëlmatige uitgawes

Terselfdertyd sê die party meer as R482 miljoen in onreëlmatige uitgawes en R31 miljoen in vrugtelose en verkwistende uitgawes wat in die premier se departement aangeteken is, moet steeds ondersoek word.

Volgens Cloete sukkel dienslewerings- en infrastruktuurdepartemente óf om toegang tot befondsing vir kritieke dienste te verkry óf versuim om noodsaaklike projekte soos hospitale en paaie te voltooi en in stand te hou. 

Die party hou vol solank die ANC die provinsiale beursie beheer sal openbare fondse steeds aan die verkeerde prioriteite bestee word.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.