On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Olebogeng
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Meer as een uit elke sewe polisie-voertuie nie in diens nie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:02 Sat, 20 Dec 2025

Meer as een uit elke sewe polisie-voertuie nie in diens nie | News Article
16% van polisievoertuie is nie padwaardig nie. Foto: Facebook

Blou ligte beteken niks wanneer daar geen voertuig is om hulle aan te skakel nie.

Regoor die land sukkel polisiebeamptes om misdaadtonele en noodgevalle betyds te bereik  terwyl die tekort aan voertuie en meganiese probleme die polisie steeds in ’n wurggreep hou.

Prof. Firoz Cachalia, waarnemende polisieminister, sê in ’n skriftelike antwoord op ’n parlementêre vraag deur Gugulethu Mchunu, MK Party-LP, die polisie het 2 991 voertuie vir die 2025/26-boekjaar aangeskaf. Hy sê vertragings in die aflewering van voertuie en ’n verouderende vloot vererger die tekort aan voertuie, veral by polisiestasies in dorpe en landelike gebiede.

Cachalia sê die aantal voertuie wat aangekoop word, is steeds te min vir wat polisiestasies benodig. Baie voertuie het hoë kilometerlesings en word 24/7 gebruik, wat lei tot gereelde onderbrekings en herstelwerk.

Prof. Firoz Cachalia. Foto: Suid-Afrikaanse regering

“Dit is weens ’n verouderende vloot en omdat voertuie  op ’n 24/7-basis gebruik word, wat daartoe lei dat voertuie vir herstelwerk geneem of afgeskaf word,” sê Cachalia.

'Polisie raak vinniger van voertuie ontslae as wat vervang kan word'

“Die polisie raak tans vinniger van voertuie ontslae raak as wat hulle vervang kan word, terwyl die aantal nuwe voertuie minder is as wat nodig is om aan operasionele eise te voldoen."

Volgens die minister word die behoefe aan polisievoertuie bepaal volgens die totale aantal personeel en polisiëringsfunksies by elke stasie, eerder as die geografiese terrein.

Nuwe syfers toon dat 83,91% van die nasionale vloot teen die einde van November operasioneel was, wat beteken 16,09% was buite diens weens onderhoud of herstelwerk – ’n situasie wat die polisie se vermoë om misdaad effektief te bestry, belemmer.

Polisie doen daaglikse voertuiginspeksies

Cachalia beklemtoon die polisie maak nie die werklike aantal voertuie wat ontplooi is, bekend nie omdat dit kwesbaarhede kan ontbloot en beamptes en hul bedrywighede in gevaar kan stel.

Hy sê daar is deurlopende toesig oor die vloot om te verseker soveel voertuie moontlik bly operasioneel terwyl gereelde inspeksies streng nagekom word. 

“Die polisie doen daaglikse voertuiginspeksies sowel as weeklikse inspeksies op alle vervoerbates. Maandelikse opgawes rakende die diensbaarheid van voertuie moet deur polisiestasies aan distrikskommissarisse en provinsiale kommissarisse gerapporteer word om ’n operasionele en diensbare voertuigvloot te verseker,” sê hy.

Nuwe polisievoertuie, reg om in gebruik geneem te word. Foto: Facebook

Daarbenewens word ’n omvattende inventaris twee keer per jaar gedoen, waartydens voertuie op die bateregister gesertifiseer word en hul toestand aangeteken word as deel van jaarlikse beplanning en terugvoering. 

Cachalia sê 'n behoeftebepaling van alle vervoerbates word elke jaar in November gedoen, waarna provinsies en afdelings aansoeke by die afdelingskommissaris vir voorsieningskettingbestuur indien voor 15 Januarie. Die verkrygingsplan word dan deur die polisie se rekeningkundige beampte goedgekeur.

'Behoeftebepaling van polisievoertuie word jaarliks in November gedoen'

Voertuie word aangekoop deur ’n ooreenkoms met die Nasionale Tesourie, met die eerste bestellings wat op 1 April geplaas word. Hierdie voertuie word aan die polisie se tien nuwe voertuigwinkels afgelewer voordat dit na polisiestasies en eenhede versprei word.

Hy het gesê dat die toekenning aan dorps- en landelike polisiestasies deur vasgestelde kriteria gelei word om te verseker dat aan operasionele behoeftes voldoen word.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427

OFM Nuus/Charne van der Merwe


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.