Central SA
Man van Noord-Kaap skuldig aan meineed ná beweerde kaping─── 11:52 Sat, 03 Jan 2026
’n Man wat voorgegee het hy is verlede jaar deur twee mans met ’n vuurwapen aangehou en gekaap, op aanklag van meineed skuldig bevind. Die hof het bevind hy het vals verklarings afgelê.
Omphile Masegela, provinsiale polisiewoordvoerder, sê Aubin Bosch het in Maart ’n kapingsvoorval by die polisie in Kakamas aangemeld. “Hy het ook beweer hy is oor die kop geslaan waarna sy blou Toyota Yaris met geweld gesteel is. Die motor was later na bewering in ’n botsing betrokke.”

Sers. John Manzana. Foto: SAPD
‘n Saak is aanhangig gemaak en die ondersoek is aan sers. John Manzana van die ondersoekeenheid vir voertuigmisdaad op Upington toegewys.
Hy het vasgestel geen kaping het plaasgevind nie. Bewyse het aan die lig gebring die klaer het die voorval versin om 'n bedrieglike versekeringseis in te dien.
Verdere ondersoeke het aangedui Bosch was op die dag van die beweerde kaping dronk en het met die motor by 'n kanaal by Soetap-plaas ingery.
“Die saak is as vals geklassifiseer en die dossier is vir ’n beslissing ingedien. Die staatsaanklaer het bevind dit is regsverydeling en ’n saak van meineed is daarna teen die klaer by die Kakamas-polisiekantoor aanhangig gemaak.”
Verantwoording
Bosch is in hegtenis geneem en het in die hof verskyn om verantwoording te doen vir sy dade. Hy is onlangs skuldig bevind en tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis wat in die geheel vir vyf jaar opgeskort is.
Genl.maj. Monica Sebili, distrikskommissaris van die ZF Mgcawu-distrik, het Manzana geprys vir sy deeglike ondersoek en toewyding wat tot die suksesvolle skuldigbevinding gelei het.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus dg

