On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Kathu-vrou in hof ná miljoene by skool wegraak

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:22 Mon, 06 Jul 2026

Kathu-vrou in hof ná miljoene by skool wegraak | News Article
Jessica Kuhn. Foto verskaf

’n Noord-Kapenaar, wat glo miljoene rande verduister het wat vir onderwysers se salaris en die bestuur van ’n hoërskool bedoel was, sal na verwagting Dinsdag (7/7) om borgtog aansoek doen.

Jessica Kuhn (43), wat voorheen as finansiële administrateur by die Hoërskool Kathu gewerk het, word daarvan beskuldig dat sy sowat R4,6 miljoen van die skool se geld verduister het. Sy het Vrydag (3/7) haar eerste verskyning in die landdroshof gemaak, sê lt.kol. Tebogo Thebe, provinsiale polisiewoordvoerder.

Kuhn is Donderdag (2/7) by haar woning in Kathu deur die Valke se eenheid vir ernstige kommersiële misdaad, saam met hul kollegas van die eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad, in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog, vervalsing en die gebruik van vervalste dokumente.

“Die modus operandi het behels dat afsonderlike private bankrekeninge geskep is waarheen skoolgeld oorgeplaas is. Finansiële onreëlmatighede is in Oktober 2025 tydens ’n oudit ontdek toe afwykings in die skool se finansiële rekords aan die lig gekom het,” sê Thebe.

Die gesteelde geld het skoolfooie en skenkings ingesluit wat gebruik word om die salarisse te betaal van onderwysers wat deur die skoolbeheerliggaam aangestel is.

Verdere ondersoek het glo aan die lig gebring dat Kuhn fiktiewe fakture opgestel het wat voorgegee het om van wettige skoolverskaffers afkomstig te wees, waarna betalings na haar persoonlike bankrekening vir haar eie voordeel gemagtig is.

“Daar is ook bewerings dat die beskuldigde haarself oortydbetalings toegestaan het ondanks die skool se beleid wat sulke betalings verbied,” sê Thebe.

’n Ander Noord-Kapenaar kom na verwagting Vrydag (10/7) voor nadat sy glo betalings wat aan ’n maatskappy verskuldig was, na haar persoonlike bankrekening oorgeplaas het.

Amy Mellisa van Heerden (30) sal in die Kathu-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog, geldwassery en diefstal. ’n Moontlike pleitooreenkoms sal plaasvind.

‘Verlies van meer as R1 miljoen gely’

Van Heerden is in Februarie deur die Valke in hegtenis geneem. Sy het by Nashua Kathu gewerk en het na bewering die maatskappy se bankbesonderhede na haar eie bankrekening verander, het Thebe vroeër gesê.

Nashua Kathu het ’n verlies van meer as R1 miljoen gely. Sy het die dag ná haar inhegtenisneming vir die eerste keer in die hof verskyn en is op borgtog van R10 000 vrygelaat.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.