South Africa
George-tiener se nuwe haarkleur kan sleutel wees om haar op te spoor─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:42 Wed, 22 Jul 2026
’n Tienermeisie van George se blonde hare is glo net ’n week voor haar verdwyning swart gekleur, ’n verandering wat nou as een van die belangrikste leidrade in die landwye soektog na haar beskou word.
Mense na aan die saak meen die dramatiese kleurverandering kon doelbewus gewees het om haar moeiliker herkenbaar te maak. Sarah Rose Starrett (17) het Sondag (19/7) omstreeks 08:00 in Maitlandstraat, Blanco, spoorloos verdwyn.
“Sy is moontlik saam met iemand wat aan haar bekend is,” sê Shawn Northey van die George-GOF. Die gemeenskap werk volgens hom onverpoos om haar op te spoor en elke leidraad, hoe gering ook al, kan die deurbraak wees waarna ondersoekers soek.

Northey vra die publiek om nie op gerugte te fokus nie, maar enige inligting onmiddellik met die polisie te deel. Persone wat met Sarah se omstandighede vertroud is, vertel aan OFM Nuus dat sy in ’n kinderhuis gewoon het waar sy gelukkig was en goeie vordering gemaak het.
Haar pa is glo nie by haar lewe betrokke nie, terwyl haar ma na bewering die afgelope vyf jaar in ’n motor woon. Die ma het glo die reg gehad om haar dogter elke Sondag te besoek.
“Sarah se hare is swart gekleur en sy lyk heel anders as op die foto’s wat tans op sosiale media versprei word. Mense moet asseblief nie net uitkyk vir die foto’s waarop sy blonde hare het nie, maar ook vir iemand met swart hare,” sê Northey.
Hy doen ook ’n beroep op Suid-Afrikaners om Sarah se vermisteplakkaat so wyd moontlik te versprei. “Ons het al gesien hoe ’n eenvoudige deel op sosiale media of ’n enkele waarneming ’n vermiste persoon veilig huis toe bring. Hou asseblief aan deel totdat Sarah gevind is.”
Enigiemand met inligting oor Sarah se verdwyning word versoek om die George-polisie by 044 803 4733 of Northey by 082 657 4539 te bel.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066487 1427.

