Central SA
Ystertekort: Wanneer moegheid meer as net ’n lang dag beteken─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:37 Tue, 15 Sep 2026
Moegheid, swak konsentrasie en liggaamlike passiwiteit word maklik aan stres, min slaap of ’n besige leefstyl toegeskryf.
Vir baie jong vroue kan dié alledaagse simptome egter op ’n onderliggende voedingsprobleem dui: ’n ystertekort. Navorsers aan Noordwes-Universiteit (NWU) se Sentrum vir Uitnemendheid vir Voeding ondersoek tans hoeveel yster jong vroue werklik benodig en of bestaande voedingsriglyne voldoende rekening hou met hul unieke omstandighede.
Die Research on Iron Absorption and Iron Losses in Young Women of Rayon-studie fokus op langtermyn-ysterabsorpsie en ysterverliese by jong vroue met en sonder oorgewig of vetsug, sê dr. Mary Uyoga, senior lektor by die sentrum en voedingsepidemioloog. Sy voeg by plaaslik relevante navorsing is noodsaaklik om die omvang en aard van die probleem beter te verstaan.
“Ystertekort bly een van die algemeenste voedingstekorte wêreldwyd, en jong vroue is veral kwesbaar weens die verhoogde ysterbehoeftes wat met groei, menstruasie en later swangerskap gepaard gaan.”
In Suid-Afrika word die uitdaging verder bemoeilik deur die hoë voorkoms van oorgewig en vetsug, wat ongeveer twee uit elke drie jong vroue raak. Hoër vlakke van liggaamsvet kan laegraadse, chroniese inflammasie bevorder, wat moontlik die liggaam se vermoë om yster te absorbeer en doeltreffend te benut, beïnvloed.
Dit skep ’n komplekse openbaregesondheidsuitdaging: Vroue kan terselfdertyd met mikronutriënttekorte én oorgewig of vetsug leef. “Baie van die huidige riglyne oor ysterbehoeftes is gegrond op internasionale data en neem nie faktore soos gewone dieetpatrone en inflammasie wat met ’n hoë vetmassa verband hou, voldoende in ag nie.”
Die doel met die studie is om te bepaal hoeveel yster jong Suid-Afrikaanse vroue met en sonder oorgewig of vetsug benodig, of hierdie behoeftes deur hul gewone dieet gedek word en hoe die bevindings met bestaande aanbevole ysterinnames vergelyk. Die resultate kan eindelik help om die voorkoming en bestuur van ystertekort by vroue van reproduktiewe ouderdom te verbeter.

Dr. Mary Uyoga, senior lektor en voedingsepidemioloog. Foto verskaf
Die gevolge van onvoldoende yster strek egter veel verder as bloot moegheid. Lae yster kan konsentrasie en geheue benadeel, en liggaamlike aktwiteite en die immuunstelsel verswak, selfs voordat ystertekort tot bloedarmoede ontwikkel.
“Ystertekort kan leervermoë, akademiese prestasie en algehele lewensgehalte negatief beïnvloed,” sê Uyoga. “Vroue wat ’n swangerskap met onvoldoende ysterreserwes begin, loop ook ’n groter gevaar vir komplikasies soos ernstige bloedarmoede, swak moeder-gesondheid en ongunstige swangerskapuitkomste, asook negatiewe gevolge vir die ontwikkeling van die baba.”
Juis omdat die simptome dikwels vaag is, kan ystertekorte maklik misgekyk word. Moegheid en probleme met konsentrasie word dikwels as die gevolg van stres, te veel werk of die eise van die daaglikse lewe afgemaak word, terwyl vroeë ystertekort selfs sonder duidelike kliniese tekens kan voorkom.
“Voedingstekorte kry ook dikwels minder aandag as meer sigbare gesondheidsuitdagings, al is dit wydverspreid en kan dit langtermyngevolge vir gesondheid en ontwikkeling hê.”
Die navorsing kan belangrike implikasies vir Suid-Afrika inhou. Die studie kan bydra tot voedingsintervensies, gesondheidsbeleid en dieet-riglyne wat beter aansluit by Suid-Afrikaanse vroue se eetgewoontes, gesondheidstoestande en lewensomstandighede.
“Eindelik kan die bevindings help om ystertekort en bloedarmoede te voorkom, vroue se gesondheid te verbeter, opvoedkundige prestasie en produktiwiteit te verhoog en moeders se welstand te ondersteun.”
Die navorsing vorm deel van die sentrum se breër pogings om oplossings te vind vir dringende voeding- en openbaregesondheidsuitdagings oor die verskillende lewensfases heen. Die sentrum se werk sluit navorsing oor mikronutriënttekorte, moeder- en kindervoeding, dieetverwante toestande en nie-oordraagbare siektes in.
“Een van die sentrum se groot sterkpunte is die klem op die ontwikkeling van plaaslik relevante bewyse wat nie net voedings- en openbaregesondheidsbeleid en gesondheidsorgpraktyke kan rig nie, maar ook deur Suid-Afrikaners se werklike lewenservarings gevorm word,” sê Uyoga.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.


