Central SA
Nog ’n liggaam in Gautengse Oos-Rand gevind─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:00 Sun, 27 Sep 2026
Veiligheidsmaatreëls aan die Oos-Rand gaan verskerp word ná die ontdekking van nog ’n liggaam. Inwoners word aangemoedig om waaksaam te bly en veiligheidsinisiatiewe te ondersteun.
Haar liggaam is Saterdagoggend (26/9) in Vusimusi in Tembisa-Suid gevind. “Die polisie kan in dié stadium slegs bevestig die vrou se se liggaam is ontdek,” sê brig. Brenda Muridili, provinsiale polisiewoordvoerder. “Meer besonderhede sal bekend gemaak word nadat ’n voorlopige ondersoek afgehandel is.”
Volgens eNCA is die liggaam in ’n begraafplaas in Mooifontein gevind en was die vrou halfnaak. Sedert Julie is die liggame van nege ander vroue in verskeie dele van die Oos-Rand gevind is. Agt van dié slagoffers is reeds geïdentifiseer.
Lt.genl. Puleng Dimpane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, sê vyf van die vermoorde vroue is seksueel aangerand en/of verkrag.
AfriForum het intussen aangekondig dat sy veiligheidsfokus in die gebied uitgebrei gaan word. Die burgerregteorganisasie beplan om buurtwagpatrollies te verskerp en verdere veiligheidsopleiding aan gemeenskapslede te bied, sê Yvonne Gerber, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.
Sy sewe buurtwagte in Kempton Park, Benoni, Boksburg, Brakpan, Alberton, Springs en Germiston sal na verwagting hul paraatheid verskerp en voortgaan om met die polisie saam te werk.
Gerber sê die onlangse moorde en ander ernstige misdaad maak inwoners bekommerd oor hul veiligheid. Sy moedig inwoners aan om hul eie veiligheidsmaatreëls te verbeter, bewus van hul omgewing te wees en waar moontlik afgesonderde gebiede te vermy.
“Inwoners moet ook geliefdes oor hul bewegings inlig, noodkontakte byderhand hou en verdagte persone of voertuie onmiddellik aan die polisie rapporteer.”
Gemeenskapslede kan deur veiligheidsopleiding leer om moontlike risiko’s en verdagte situasies beter te identifiseer, noodkommunikasie te verbeter en hoe om in ’n noodgeval op te tree.
Gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe is nie bedoel om wetstoepassers se werk oor te neem nie, maar eerder om inwoners se vermoë om hulself en hul gemeenskappe te beskerm te verbeter. “Inwoners moet ook nie self probeer om verdagtes te nader of te konfronteer nie,” sê sy.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dgdg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.


