On Now
Weekends 09:00 - 13:00
The Central SA Top 40 Laurika
Show Background
NEXT: 13:00 - 16:00 Saterdag Siësta with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Twee jong kinders sterf aan breinvliesontsteking

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:10 Sat, 07 Nov 2026

Twee jong kinders sterf aan breinvliesontsteking  | News Article
Frans van der Bergh (13) van Springs is Donderdag aan breinvliesontsteking oorlede. Foto: Facebook

Breinvliesontsteking is weer onder die soeklig nadat twee jong kinders in Suid-Afrika binne enkele dae aan die ernstige siekte dood is.

Frans van der Bergh (13) van Springs op die Oos-Rand is Donderdag (5/11) in die Glenwood-hospitaal in Benoni oorlede ná ’n twee weke lange stryd teen breinvliesontsteking. Aidan Westraad, ’n gr. 2-leerling aan die Laerskool Laurus in Oudtshoorn, is Sondag (1/11) in die George-hospitaal oorlede.

Frans is reeds Woensdag (4/11) breindood verklaar, maar is tot Vrydag aan lewensondersteuning gehou sodat sy organe geskenk kon word. Breinvliesontsteking, ook bekend as meningitis, is ’n ontsteking van die membrane wat die brein en rugmurg omring. Die toestand kan deur verskeie faktore veroorsaak word, waaronder bakteriële, virale en swaminfeksies.

Aidan Westraad. Foto: Facebook

Bakteriële breinvliesontsteking is veral gevaarlik en kan vinnig vererger. Dit is ’n mediese noodgeval wat onmiddellike behandeling vereis. Virale breinvliesontsteking is dikwels minder ernstig, maar kan steeds tot ernstige siekte lei.

Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes is dit belangrik om die oorsaak van breinvliesontsteking te bepaal, aangesien die behandeling van die tipe infeksie verskil.

Simptome wat ouers moet dophou

Die eerste simptome kan soms soos dié van ’n gewone griep of ander algemene kinderkwale lyk. Dit is daarom belangrik dat ouers veral oplet na skielike veranderinge in hul kinders se gesondheid en gedrag.

Algemene simptome 

  • Hoë koors.
  •  Erge hoofpyn.
  •  ’n Stywe of pynlike nek.
  •  Naarheid en braking.
  •  Gevoeligheid vir helder lig.
  •  Verwarring of ongewone gedrag.
  •  Slaperigheid of probleme om wakker te word.
  • Stuiptrekkings.

By babas en jong kinders kan die simptome anders voorkom. Ouers moet veral let op ’n kind wat ongewoon stil of lusteloos is, aanhoudend huil, geïrriteerd voorkom, swak drink of sukkel om wakker te word.

’n Bultende sagte kol op ’n baba se kop kan ook ’n waarskuwingsteken wees. In sommige gevalle kan bakteriële infeksie ook tot bloedvergiftiging (sepsis) lei. Koue hande en voete, vinnige asemhaling en ’n donkerrooi of pers uitslag wat nie verbleik wanneer daarop gedruk word nie, kan verdere waarskuwingstekens wees.

Kry mediese hulp

Breinvliesontsteking kan binne ’n kort tydperk ernstig raak. Ouers moet nie wag totdat al die simptome verskyn voordat hulle mediese hulp soek nie. Indien ’n kind koors ontwikkel saam met ’n erge hoofpyn, stywe nek, braking, verwarring of ongewone slaperigheid, moet dringende mediese hulp verkry word.

’n Uitslag wat nie verbleik wanneer daarop gedruk word nie, stuiptrekking of ’n kind wat moeilik wakker word, vereis onmiddellike mediese aandag. Die afwesigheid van ’n uitslag of stywe nek beteken ook nie noodwendig dat breinvliesontsteking uitgesluit kan word nie.

Verspreiding en voorkoming 

Die manier waarop breinvliesontsteking versprei, hang af van die organisme wat die infeksie veroorsaak. Sekere bakterieë en virusse kan deur respiratoriese druppels en speeksel versprei, veral tydens noue kontak tussen mense.

Inentings bied beskerming teen verskeie bakterieë wat breinvliesontsteking kan veroorsaak. Ouers kan met hul gesondheidsorgverskaffer oor beskikbare inentings en hul kinders se immuniseringskedules praat. Die belangrikste boodskap is ouers moenie waarskuwingstekens ignoreer nie. Vroeë herkenning en onmiddellike mediese behandeling kan ’n deurslaggewende verskil maak.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.