Entertainment
Hulde aan Hendrik Susan, die vader van Afrikaanse ligte musiek─── SUSAN MARÉ 13:44 Tue, 05 May 2026
Die meeste liefhebbers van boeremusiek is ongetwyfeld bewonderaars van die legendariese Henricus Cornelis (Hendrik) Susan, die baanbreker van boeremusiek.
Cornelis Henricus Susan is op 4 Mei 1903 gebore en is 60 jaar later oorlede. Omdat sy invloed op die ontwikkeling van ’n eie Suid-Afrikaanse musiek-idioom blywend is, is dit gepas om hom rondom sy verjaardag te onthou.
Boeremusiek is ’n unieke soort instrumentale volksmusiek wat eie is aan Suid-Afrika en hoofsaaklik bedoel was as begeleiding vir sosiale danse. Dit het oor eeue heen ontwikkel uit Europese dansvorme wat deur nedersetters aangepas is by plaaslike omstandighede en kulturele invloede.
Voor Hendrik Susan was dit bekend as “vastrapmusiek” en taamlik rou en ongepoleerd. Sy agtergrond as klassiek opgeleide violis het daartoe bygedra om die musiek meer struktuur en grasie te gee, wat dit ook aanvaarbaar gemaak het vir die radio en konsertsale.

Hendrik Susan was ’n klassiek opgeleide violis. Foto verskaf
Die beroemde Hendrik Susan en sy Orkes was landwyd gewild en sy orkeslede het hom liefdevol “Chief” of “Oubaas” genoem. Hy was bekend vir sy vermoë om jong musiektalent raak te sien en te help ontwikkel.
Die trekklavierspeler en komponis Nico Carstens en talle ander was van die jong musikante wat onder Hendrik Susan se vlerk begin speel het.
Dit is ook bekend dat Hendrik Susan in die vroeë vyftigerjare ’n groot rol gespeel het in die jong sangloopbaan van Mimi Coertse en dat sy altyd met waardering oor hom gepraat het en die geleenthede wat sy danksy hom in haar vroegste sangjare ontvang het.
Sy het hom onthou as streng en professioneel, en dat die optredes saam met hom veral haar selfvertroue as jong sangeres om voor gehore op te tree ontwikkel het.
As baanbreker-violis en orkesleier het Hendrik Susan boeremusiek geliefd gemaak. Daar was niemand in die Afrikaanse sfeer van Suid-Afrika wat nie van hom geweet het nie.
Hendrik Susan se pioniersrol in die verwerking en popularisering van tradisionele Afrikaanse wysies is ’n groot nalatenskap. Sy repertorium het bestaan uit eie komposisies sowel as bekende volksliedjies wat hy in sy kenmerkende gepoleerde styl verwerk het. Hy het ook vergete liedere opgediep en in die kollig geplaas.
Baie van sy treffers is uitgereik op die historiese album So het hulle gespeel, en ander 78-spoed-plate. Die langspeelplaat Dans saam was die heel eerste Afrikaanse langspeelplaat wat in Suid-Afrika gepers is.

Hendrik Susan het in vyf rolprente opgetree. Foto verskaf
Hy het sy leerlinge aangemoedig om te komponeer en nuwe melodieë te skep. “Hasie” van Nico Carstens en Anton de Waal asook “Warmpatat” (hoofsaaklik deur Nico gekomponeer) is voorbeelde.
Ander liedere van Hendrik Susan en Orkes wat bekend is, is die “Katjiepieringwals”, “Ossewa”, “Januarie Februarie Maart”, “Blouwildebees”, die “Harseerwals”, die “Oslo-wals”, en vele meer.
Hendrik Susan het in vyf Afrikaanse rolprente opgetree: ’n Plan is ’n boerdery (1954), Altyd in my drome (1952), Alles sal regkom! (1951), Hier’s ons weer (1950) en Kom saam vanaand (1949).
Die van Susan is ongewoon in Suid-Afrika omdat dit ’n metroniem is – ’n van wat van ’n vroulike voornaam afgelei is. Die Susan-gesin het in 1896 uit Den Haag na Suid-Afrika geëmigreer. In dié tyd was daar ’n beduidende oplewing in Nederlandse immigrasie. Die tydperk is gekenmerk deur ’n sterk gevoel van stamverwantskap tussen Nederland en die Boererepublieke.
Hoewel ongewoon in Suid-Afrika word die van Susan ook in Nederland en Engeland aangetref. Die van het sy wortels in die Hebreeuse woord “Shoshannah”, wat ‘lelie’ of ‘lelie van die dale’ beteken.
Baie Nederlanders het in die laat 19de eeu, spesifiek rondom 1896 toe Jan Susan en sy vrou, Mary-Ann Olivier, na Suid-Afrika gekom het, na Suid-Afrika geëmigreer.
Die Nederlanders na wie ook as “Kruger se Hollanders” verwys is, het op vele terreine ’n impak op die kultuur van Suid-Afrika gemaak. Hulle het in baie beroepsrigtings uitgeblink en hoogtes bereik, van argitektuur tot teologie.
Hendrik Susan is in 1925 met sy skoolliefde, Mabel Magdalena Middleton, getroud. Die egpaar het twee seuns gehad. Jan Clarence die oudste is in Bulawayo (in Zimbabwe) gebore en Leon Pierre op die familieplaas naby Piet Retief waar die Susans geboer het.

Hendrik Susan het in 1925 met sy skoolliefde, Mabel Magdalena Middleton, getrou. Foto verskaf
OFM Nuus het met twee van sy kleinkinders gesels. Hestelle (Susan) Killian het hom nie geken nie, maar haar neef, Nicus Susan, koester nog kleuterherinneringe aan sy oupa. Hy onthou nie veel nie maar het baie geluister as sy oupa oefen. Hy onthou sy oupa as ’n wonderlike, vriendelike oupa.
Ongelukkig het Hendrik se twee seuns nie hul pa se talent geërf nie maar altwee is met musikale vroue – musiekonderwyseresse – getroud. Dit lyk of die derde geslag ook nie sy musiektalente geërf het nie, maar die vierde geslag het glo musikale kinders opgelewer wat uitblink.
Nicus vertel sy oupa het ’n Stradivarius-viool gehad. Ongelukkig het een van sy oupa se orkeslede een aand die viool per ongeluk stukkend getrap. Van die beskadigde viool is later ’n lamp gemaak wat aan sy niggie behoort.
“Dit lyk of die derde geslag ook nie sy musiektalente geërf het nie, maar die vierde
geslag het glo musikale kinders opgelewer wat uitblink”
’n Stradivarius-viool is ’n uiters skaars en waardevolle strykinstrument wat laat in die 17de of vroeë 18de eeu deur die Italiaanse vioolbouer Antonio Stradivari gemaak is.
Dié viole word wêreldwyd beskou as die toppunt van die vioolboukuns as gevolg van hul uitsonderlike klankgehalte, krag en fyn vakmanskap.
“My oupa was ’n baie sagte mens – ek glo nie hy sou ’n geraas gemaak het oor die viool nie. Hy was vir seker baie ontsteld. Ek dink in daardie tyd het mense nog nie besef dat ’n egte Stradivarius-viool goud werd is nie, en in die volgende eeu honderde miljoene rande op ’n veiling sou haal.”
Een van sy agterkleinkinders, Surette Brits (getroude van Kieviet), het ’n opname waarin sy en haar neef Kobus Susan saam ’n duet sing.
Willem Viljoen, wat op Saterdagmiddae die boeremusiekprogram Vastrap op RSG aanbied, sê Hendrik Susan se bydrae tot boeremusiek was fenomenaal.
“My pa (Ollie Viljoen) het my vertel dat sale waar oom Hendrik-hulle opgetree het tot oorlopens toe vol was. Mense het buite op mekaar se skouers gestaan om by die venster in te kyk.
“ ’n Mens kan nooit sy erfenis en bydrae op die gebied van Suid-Afrikaanse musiek oorskat nie – hy het ’n merkwaardige, merkwaardige bydrae gelewer.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

