On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Entertainment

Van Stellenbosch tot Bloemfontein: Rademan bring twee feesjuwele

───   SUSAN MARÉ 13:09 Mon, 06 Jul 2026

Van Stellenbosch tot Bloemfontein: Rademan bring twee feesjuwele | News Article
Niël Rademan en Lynelle Kenned. Foto verskaf

Die uitvoerende hoof van die Suidoosterfees bring vanjaar twee produksies na die Vrystaatse Kunstefees.

Niël Rademan van Stellenbosch kom feesgangers vermaak met Vivaldi en die vondeling en Musical Moments. Die kunstefees begin Dinsdag (7/7) en duur tot Saterdag (11/7).

Die bekende Suid-Afrikaanse sanger, pianis, regisseur en teatervervaardiger het al diep spore in die musiek- en kunstewêreld getrap. Sy produksie, wat musiekblyspele, kabaret en klassieke musiek insluit, skep ’n intieme ervaring wat musiek en stories laat saamsmelt.

Toekennings

Rademan het  ’n  meestersgraad in drama aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Sy solo-klavieralbums is vir Ghoema- en Tempo-toekennings benoem. 

Boonop was hy die stigter van groepe soos The South African Sopranos en 5MAESTROS. In teater tree hy op as regisseur en as sanger op feeste soos die KKNK en die Suidoosterfees.


Die bekroonde sopraan Lynelle Kenned is een van sy bekendste medewerkers en kom ook na Bloemfontein. Sy sing en speel die hoofrol in sy musiekteaterproduksie Vivaldi en die vondeling. ’n  Bykomende produksie met Rademan en Kenned as vennote (klavier en sang) is Musical Moments.

Rademan werk nou saam met die Afrikaanse skrywer Riana Scheepers wat die tekste geskryf het van produksies soos Clara, Vivaldi en die vondeling, asook die bekroonde jeugmusiekspel, Die Avonture van Wilde Willemientjie.

Vivaldi en die Vondeling word in die OFM Odeion opgevoer. Musical Moments is ’n kontemporêre blyspel en sal in die Creative Kilowatt Kopanong-ouditorium opgevoer word. In hierdie blyspel is Rademan self op die verhoog as bariton en Kenned as sopraan.

Vrystaatse musici wat saam met Rademan in sy twee produksies op die kunstefees optree, is die pianis en komponis Anton Esterhuyse. Hy sal as begeleier optree op die klawesimbel en klavier. Twee ander instrumentaliste, Sharon de Kock en Johanna Roos van die Odeion-strykkwartet, sal in alternatiewe skedules saam optree.

Vivaldi en die vondeling word Dinsdag (7/7) om 20:00 en Woensdag (8/7) om 09:00 in die OFM Odeion opgevoer. Die tydsduur is 60 minute en toegang is R220.

Speelvak

Musical Moments het slegs een eksklusiewe speelvak op Donderdag (9/7) in die Creative Kilowatt Kopanong-ouditorium. Dit begin om 14:30 met ’n tydsduur van 60 minute en kaartjies kos R220.

Besoek die webblad van die kunstefees  vir meer besonderhede.

OFM Nuus/Susan Maré sm/dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.