Entertainment
Ficksburg se Kersiefees bring sedert 1968 gemeenskappe saam─── DITEBOGO MOLEFI 11:00 Fri, 30 Oct 2026
Die Oos-Vrystaat se kersieseisoen bring meer as net kleur en geur na die streek.
Op Ficksburg word dié tyd van die jaar gekenmerk deur ’n tradisie wat mense, plaaslike ondernemings en landbou al dekades lank met mekaar verbind. Wat in 1968 as ’n gemeenskapsprojek begin het, het oor die dekades gegroei tot die Ficksburg Kersiefees, wat vandag as die land se oudste oesfees bekend staan.
By Ionia Cherry Farm leef hierdie erfenis voort wanneer besoekers die plaaslewe en landboutradisies van die gemeenskap kom ervaar. Volgens Freda Kruger, een van die feesorganiseerders en ’n lid van die Blou Kruin-groep wat Ionia-plaas in 2013 gekoop het, is die fees ’n belangrike deel van Ficksburg se identiteit.
Kos, musiek en gemeenskapsbetrokkenheid bring mense van oor die land heen na die Oos-Vrystaat, waar hulle die streek se karakter en gasvryheid kan beleef. Die ekonomiese impak strek egter veel verder as die plaas se grense.
Kruger sê besoekers ondersteun ook restaurante, hotelle, gastehuise en ander ondernemings wanneer hulle die dorp vir die fees besoek. Hierdeur kry ondernemings in die omgewing die geleentheid om hul dienste aan nuwe besoekers bekend te stel, terwyl die fees tot die plaaslike ekonomie bydra.

Ionia Cherry Farm se tuisgemaakte kersiekonfyt. Foto: Facebook
Ionia Cherry Farm is trots daarop dat die jaarlikse feesvieringe die mense van Ficksburg die geleentheid bied om te wys waartoe hul gemeenskap in staat is wanneer hulle saamwerk om ’n jare lange tradisie lewendig te hou.
Sy sê dit is vir hulle belangrik om hierdie erfenis vir toekomstige geslagte te bewaar, sodat die fees steeds mense kan saambring en die streek se landboukarakter kan vier.

Vanjaar se fees word van 12 tot 14 November by Ionia Cherry Farm gehou. Besoekers kan uitsien na kos, plaasprodukte, vermaak, wynproeë en kookdemonstrasies. Kruger hoop veral dat mense die geleentheid sal kry om tussen die kersiebome te staan, hul eerste kersie te pluk en die vars vrugte vir die eerste keer te proe.
Vir haar gaan dié ervaring oor meer as net die oes. Dit bied besoekers die kans om nader aan die plaaslewe en die natuur te beweeg en die landskap van die Oos-Vrystaat op ’n besondere manier te waardeer.
Een van haar dierbaarste herinneringe is dié van ’n vrou wat ’n besonder sappige kersie gepluk en daarin gebyt het, net om te sien hoe die sap oor haar klere en mond spat. Dit was dit ’n eenvoudige, maar onvergeetlike oomblik wat die vreugde van die fees vasvang.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

