On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Pulane
Listen Live Streams

Health

Stilswye oor mishandeling kan jou in tronk laat beland

───   14:30 Tue, 11 Jun 2024

Stilswye oor mishandeling kan jou in tronk laat beland | News Article
Wanneer ’n kind mishandel word, word die toekoms ook in die gedrang gebring. Foto: Unsplash/Annie Sprat

“Daar is geen ruimte vir jou om jou diskresie te gebruik nie. Dit is die polisie se taak om alle bewerings te ondersoek.”

Kinderbeskerming is dikwels toegespits op individuele probleme, soos mensehandel, kinderarbeid en seksuele misbruik. 

Talle kinders ondervind egter verskeie probleme, pleks van net een. Kinders word dalk by die huis mishandel of misbruik, loop weg en beland op straat. Dan begin hulle met die gereg bots. 

Dit veroorsaak dikwels ’n sneeubaleffek van probleme, wat in die beginstadium gestop kon geword het as iemand die aanvanklike probleem aangemeld het. So kan baie pyn en hartseer voorkom word.

‘Aanmelding is die eerste deurslaggewende stap om hierdie kringloop te beëindig’

“Wanneer ’n kind mishandel word, is dit nie net hul hede wat verpletter word nie, hul toekoms word ook in die gedrang gebring. Deur kindermishandeling aan te meld, doen ons die eerste deurslaggewende stap om hierdie kringloop te beëinidg, en bied aan slagoffers ’n kans om te genees en ’n gesonde, produktiewe lewe te lei.

“Elke verslag wat gemaak word, is ’n stap in die regte rigting om ’n kind se lewe te red, hul waardigheid te herstel, en ’n toekoms te bou waar elke kind veilig, geliefd en vry van skade kan grootword,” sê advokaat Salome Scheepers.

Scheepers het MISA, die Motorbedryfpersoneelvereniging, toegespreek tydens sy derde webinaar wat gehou is om die vakbond se meer as 65 000 lede tydens Kinderbeskermingsmaand toe te rus. Vanjaar se tema is “elke gesprek maak saak”.

‘Drie stelle wetgewing verplig jou om jou vermoede by die polisie aan te meld’

MISA het die webinaarreeks ontwerp om sy lede in te lig oor onderwerpe waaroor hulle gereeld advies ingewin het.

Scheepers het die implikasies uitgelig wat mense in die gesig staar as hulle nie voldoen aan die verpligte aanmelding van mishandeling, verwaarlosing en blootstelling aan gesinsgeweld of seksuele aanranding van kinders nie.

Cornelia le Roux van The Citizen berig ’n mens kan tronk toe gaan, omdat jy nie jou vermoede van kindermishandeling aangemeld het nie. Tronkstraf van tot vyf jaar wag op diegene wat versuim het om hul vermoede – dat ’n kind mishandel word – by die polisie aan te meld. 

’n Mens hoef nie direk betrokke te wees of bewyse te hê nie, en jy kan anoniem ’n geval aanmeld as die omstandighede dit toelaat.

“Daar is geen ruimte vir jou om jou diskresie te gebruik nie. Daar is drie stelle wetgewings wat jou verplig om jou vermoede by die polisie aan te meld, ongeag of jy dink die kinders is te jonk of daar is dalk nie ’n saak nie. Dit is die polisie se taak om alle bewerings te ondersoek,” sê Scheepers.

Poppie Koekemoer is in Oktober 2016 in Brits oorlede. Foto: Argief

Scheepers is ’n senior staatsadvokaat by die eenheid vir seksuele misdrywe en gemeenskapsake (#SOCA) van die NVG. Sy word getaak as portefeuljebestuurder vir gesinsgeweld.

Sy verduidelik die gevolge wat mense in die gesig staar as hulle nie die verpligte aanmelding van mishandeling, verwaarlosing, blootstelling aan gesinsgeweld of seksuele aanranding van kinders nakom nie. 

Versuim om aan wetgewing te voldoen, is strafbaar met tussen drie tot vyf jaar gevangenisstraf, na gelang van die mishandeling wat nie aangemeld word nie.

Poppie Koekemoer: Gevolge van versuim om mishandeling aan te meld

Scheepers het verwys na die saak van Poppie Koekemoer, wat in Oktober 2016 op Brits dood is. Dié driejarige is agt maande lank deur haar ma en stiefpa mishandel.

“In haar saak het die regter beslis dat almal wat betrokke was, ondersoek moes word vir hul versuim om die mishandeling by die polisie aan te meld,” verduidelik Scheepers.

‘Kinders word “verkoop” om ouers se dwelm- of drankskuld te delg’

Volgens Scheepers beskerm die grondwet die regte van kinders, maar die hartseer werklikheid is dat die meerderheid kinders mishandel word deur diegene wat verantwoordelik is om hulle in hul eie huise te versorg.

Daniel Chettiar, stigter van die Daniella Simone Keisha (DSK) Group, het aan IOL gesê dat baie kinders ook “verkoop” is om hul ouers se dwelm- of drankkuld te delg.

“Ons word van gemiddeld sowat agt tot tien gevalle per maand ingelig van minderjariges wat geskend is – of dit nou verkragting is, hulle onbehoorlik aangeraak is, geslaan of selfs verkoop word.”

“In baie van hierdie gevalle pleeg ’n persoon wat aan hulle bekend is – hul ouers, stiefouers, gesins- of familielede of familievriende – hierdie dade. Ons kan sê 98% van die oortreders is dikwels aan die kind bekend,” sê hy.

Chettiar het gesê in een geval is ’n dertienjarige meisie na bewering gedwing om seksuele gunste te doen om ’n tavernerekening van sowat R400 te betaal wat haar pa geskuld het.

‘Word al byna vier maande vermis’

Die onlangse verdwyningsaak van die sesjarige Joshlin Smith het internasionaal opslae gemaak. Die dogtertjie, van die informele nedersetting Middelpos naby Diazville in Saldanhabaai, word al byna vier maande vermis.

Joshlin se ma, Racquel (Kelly) Smith, en haar kêrel, Jacques (Boeta) Appollis, saam met Steveno van Rhyn, en Lourentia “Renze” Lombaard is van mensehandel met die doel van uitbuiting en ontvoering aangekla.

Die staat het beweer Smith – wat ’n selferkende Tik (crystal meth)-gebruiker is – het Appollis en Van Rhyn opdrag gegee om Joshlin vir R20 000 vir muti aan ’n ander Middelpos-man te verkoop.

Die twee mans het glo dié bekentenis gemaak ná ’n ondervraging van 36 uur in die Saldanha-polisieskantoor.

‘Kinders verteenwoordig die toekoms’

“Kindermishandeling is nie net ’n maatskaplike siekte nie, dit is ’n deurdringende krisis wat die fondament van ons gemeenskappe, gesinne, en die belangrikste, ons kinders raak.

“Dit is ons kollektiewe verantwoordelikheid om op te tree, om in te gryp en om diegene te beskerm wat hulself nie kan beskerm nie. Kinders verteenwoordig die toekoms. Hulle is ons hoop, ons potensiaal en ons môre,” voeg Scheepers by.

OFM Nuus cg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.