On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Noord-Kaap in geheel as 'n droogterampgebied verklaar

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 10:53 Thu, 23 Jan 2020

Landbounuus-podcast: Noord-Kaap in geheel as 'n droogterampgebied verklaar | News Article

Dit is nou amptelik, die Noord-Kaap is in geheel as 'n droogterampgebied verklaar.


Agri Noord-Kaap se president, Nicol Jansen, sê dit stel die bedryf nou in staat om op 'n nasionale grondslag by die onderskeie regeringsdepartement vir droogtehulp te gaan aanklop. Jansen sê daar is nog nie duidelikheid oor hoe die R300 miljoen van die departement van water en sanitasie vir droogtehulpverlening aangewend gaan word nie. Dit kom nadat minister Lindiwe Sisulu onlangs onderneem het om dié geld beskikbaar te stel om onder meer boorgate te boor. Jansen sê georganiseerde landbou is in verbinding met die departement rakende sy hulpverlening. Hy sê intussen gaan Agri Noord-Kaap voort met sy onderskeie droogtehulpprojekte om landbougemeenskappe te ondersteun, waar goeie reën nog geen verligting gebring het nie.
 
Daarmee saam moedig OFM luisteraars aan om betrokke te raak by die onderskeie droogtehulpprojekte, wat ten doel het om landbougemeenskappe te ondersteun. OFM het 'n webblad geskep waarop luisteraars inligting oor die droogtesituasie in die sentrale binneland en in ander provinsies kan verkry en skenkings kan doen. Skakels van organisasies, soos Agri SA asook Agri Noord-Kaap, is op hierdie OFM-blad beskikbaar. Gaan na ofm.co.za, kliek op die Agri Aid-banier op die tuisblad om toegang te verkry. Vir die jongste nuus volg die hutsmerk #LandbouHoop.

EN

Aanbieders en organiseerders van die land se grootste byeenkomste in die lewende hawe bedryf, is verbind tot biosekuriteitsmaatreëls. Tentoonstellings gaan voortaan met dié biosekuriteitsprotokol op 'n wetenskaplike grondslag aangebied word. Danie Odendaal, direkteur van Veearts Netwerk, is verantwoordelik om dié protokol op te stel, sodat daar gekoördineerd in terme van biosekuriteit tydens dié byeenkomste vanjaar opgetree kan word. In 'n gesamentlike verklaring deur verteenwoordigers word die noodsaaklikheid om die beste praktyke te vestig in samewerking met die nodige belanghebbendes, opnuut beklemtoon. Verteenwoordigers van die Bloemskou, die Royal-skou in Pietermaritzburg, Nampo Alfa, Agri Expo, die aanbieder van die Agri-Expo Livestock, en Graan SA se Nampo-oesdag is betrokke. Faffa Malan, 'n veeartsenykonsultant, is ook aanboord. Die bek-en-klouseeruitbreking in Limpopo was die grootste dryfveer vir dié besluit.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.