Agriculture
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 05:00 Wed, 23 Mar 2022
Hierdie verslag word deur Graan SA (GSA) verskaf.
Mielies:
Die Amerikaanse mark word steeds baie deur die oorlog in die Swartsee-area beïnvloed en die onsekerheid van die Suid-Amerikaanse oes.
Met ‘n laer as gemiddelde eerste oes, maak Brasilië staat op sy tweede oes om lae voorraad aan te vul.
Die Amerikaanse verslag wat handel oor die intensies om te plant word aan die einde van die maand vrygestel, wat verdere wisselvalligheid in die mark kan veroorsaak.
Plaaslik: Die plaaslike mieliemarkpryse het met 1,2% gestyg met ‘n wisselkoers wat versterk het. Die huidige verskil tussen wit en geelmielies is R240.
•Die witmieliekontrak het vir Maart R38/ton sterker verhandel vir die dag om teen R4 048/ton te sluit. Witmielies vir lewering in Julie het R78/ton sterker verhandel teen R3 129/ton.
Die geelmieliekontrak vir Maart 2022 het R72/ton sterker verhandel teen R4 280/ton. Die geelmieliekontrak het vir lewering in Julie R62/ton sterker verhandel om teen R4 334/ton te sluit.
Sojabone:
Die Amerikaanse sojaboonmark het effense ondersteuning gevind in ‘n baie wisselvallige verhandelingsessie. Sojaboonpryse verhandel tans baie naby aan die $17 merk.
Die Suid-Amerikaanse oes is steeds die grootste faktor wat die sojaboonmark beïnvloed. Daar word geskat dat 72% van Brasilië se oes voltooi is.
Daar is dele in die land wat selfs swakker presteer het as wat voorspel is. Om inflasie te probeer beveg, het Argentinië aangekondig dat uitvoerbelasting op sojaboonolie en meel met 33% verhoog sal word.
Plaaslik: Die plaaslike sojaboonmark het baie goed presteer met pryse wat tot en met 2% gestyg het met ‘n versterkende Rand/Dollar wisselkoers. Hierdie styging kan moontlik ondersteun word deur die oorspoel-effek vanaf die ander grane.
Die sojaboon Maart ’22-kontrak het R208/ton sterker verhandel teen R9 750/ton. Die sojaboon Mei ’22-kontrak het R90/ton sterker verhandel teen R9 030/ton. Die sojaboon Julie ’22-kontrak het teen R9 135/ton, R95/ton sterker verhandel.
Koring:
Die Amerikaanse koringmark is steeds baie sensitief teenoor die konflik in die Oekraïne. Die oorlog sal die Oekraïne se vermoë om produkte uit te voer en die volgende oes aan te plant baie aantas. Koringpryse het met 3% gestyg die vorige sessie.
Indië is die wêreld se tweede grootste koringproduseerder, maar die grootste gedeelte van die oes word plaaslik verbruik. Daar is tans onderhandelinge met verskeie lande, insluitend Suid Afrika, om koring vanaf Indië in te voer.
Plaaslik: Die plaaslike mark het ondersteuning gevind en het ‘n gemiddelde prysstyging van 2% getoon.
Die koring Maart '22-kontrak het teen R6 960/ton verhandel, R162/ton hoër. Die koring Mei ’22-kontrak het teen R6 910/ton verhandel, R152/ton hoër.
