Agriculture
Mededingingskommissie begin ondersoek na varsproduktemark─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Wed, 13 Apr 2022

'n Ondersoek na die Suid-Afrikaanse Varsproduktemark is deur die Mededingingskommissie ingedien.
Francois Knowles, die registrateur van die Landbouprodukte-agenteraad (APAC), deel dat die raad die ondersoek verwelkom wat daarop gemik is om onder meer enige kenmerke te identifiseer wat mededinging kan belemmer of beperk in 'n bedryf waar APAC gereelde toesig uitoefen.
Sien onderstaande PODCAST
Die kommissie het hierdie dokument op 25 Maart vanjaar in die Staatskoerant gepubliseer, wat die terme van verwysing is wat hulle wil gebruik om die waardeketting waarin landbou-agente hulself bevind te ondersoek.
Knowles sê die rede hoekom die kommissie hierdie ondersoek van stapel stuur, is om te kyk na die effektiwiteit, aanpasbaarheid en die ontwikkeling van die ekonomie in die waardeketting. Hulle wil ook kyk of daar enige kompeterende produkte en keuses is wat ‘n probleem vir die eindverbruiker is.
ALSO READ: Competition Commission warns against overcharging for school uniforms
Deel van die kommissie se ondersoek sluit in pryse vir sekere varsprodukte wat gedurende die Covid-19 pandemie die hoogte in geskiet het. Voorbeelde hiervan is die pryse van gemmer, knoffel en pynappel.
In reaksie hierop, sê Knowles dat vraag en aanbod ‘n belangrike rol in pryse gespeel het. Daar was veral ‘n groot vraag na knoffel en gemmer weens hulle medisinale eienskappe.
Die kommissie ondersoek ook die regering se pogings om kleinskaalse boere te ondersteun, sowel as die uitdagings wat die varsprodukteboere in die gesig staar, veral opkomende en kleinskaalse boere.
“APAC bestudeer die opdrag vervat in die ondersoek in oorleg met sy regsadviseurs en in die mate wat hy dit nodig ag om dit te doen, sal hy sy voorleggings aan die Mededingingskommissie maak in ooreenstemming met die bepalings uiteengesit in paragraaf 1.2 van die opdrag, saamgelees met artikel 43B van die Mededingingswet.
“APAC sal alles in sy vermoë doen om konteks (en 'n volle begrip) te gee aan die kritieke rol van varsprodukte-agente in die landbouwaardeketting en hoe dit onder die APA-wet gereguleer word,” verseker Knowles in ‘n verklaring.
Die kommissie nooi die publiek om teen 25 April kommentaar te lewer oor die omvang van die ondersoek.
OFM-nuus