Agriculture
Kleinveeboere gewaarsku oor ryp hierdie week─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 25 Apr 2022
‘n Kouefront word hierdie week in dele van die Vrystaat, Oos- en Noord-Kaap verwag.
Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê kleinveeboere moet veral kennis hiervan neem.
Sien onderstaande PODCAST
Die kouefront kan teen Dinsdag of Woensdag ryp tot gevolg hê, veral oor die sentrale na die suidelike dele van die Vrystaat, oostelike en suid-oostelike dele van die Noord-Kaap, sowel as die Oos-Kaap.
LEES OOK: Nóg swaar reën kan lei tot oesverliese in Noord-Kaap
Langertermyn-weervooruitsigte toon dat reën nog heelwat voor sal kom, met neerslae wat teen die einde van April en in Mei neer kan sak, sê Van den Berg.
“Die stelsels wat ontwikkel, veral dié in KwaZulu-Natal en ander plekke waar daar baie sterk afsny-laagdrukstelsels ontwikkel, kan baie vinnig gebeur en reën veroorsaak.
“So, ons kleinveeboere moet op hulle hoede wees. Daar is dalk ‘n voorspelling vir reën vir ‘n paar millimeter, en ewe skielik ontwikkel hierdie laagdrukstelsels. Dit is tipies hierdie tyd van die jaar, veral wanneer daar La Niña-verskynsels is.
LEES OOK - #KZNfloods: Impak-assesserings aan die gang
“Ons sien dat die huidige La Niña-verskynsel het weer bietjie versterk en dit gaan dalk deur die winter aanhou.”
El Niño op pad
Van den Berg sê daar bestaan ‘n moontlikheid dat ‘n El Niño binne ‘n jaar of twee kan ontstaan. ‘n El Niño beteken droeër toestande. Maar Van den Berg voeg by dat met die baie reën wat in Suid-Afrika neergesak het weens die La Niña-verskynsel, is die grondwatertoestande en weiding baie goed, en sou daar nie reën voorkom nie, behoort die land steeds ‘n goeie 2022/23-seisoen te ervaar.
