On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Nolwethu
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Laurika
Listen Live Streams

Agriculture

Produsente moet loonopgawes voor einde Mei aanlyn verklaar

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Tue, 03 May 2022

Produsente moet loonopgawes voor einde Mei aanlyn verklaar | News Article

Dit is weer daardie tyd van die jaar wanneer produsente hulle jaarlikse loonopgawes aan die Departement van Indiensneming en Arbeid se Vergoedingsfonds moet verklaar.

Volgens Stephan Pietersen, stigter van Work Accident Support, is dit nodig sodat die Vergoedingsfonds die rekening kan bereken wat betaalbaar is deur produsente. 

Hy het met OFM-nuus se Elsabé Richard gesels.

Sien onderstaande PODCAST

Wat behels die loonopgawe? 

Die loonopgawe behels die lone wat produsente verklaar vir ‘n spesifieke jaar vanaf Maart tot Februarie, en huidiglik praat ons van 1 Maart 2021 tot 28 Februarie 2022. So, dit is die 2021-loonopgawe wat ingehandig moet word. Dit is nie ‘n kalenderjaar nie, maar wel gebaseer op die Vergoedingsfonds se finansiële jaar. Hierdie inligting moet elektronies verklaar word en die produsent sal onmiddellik sien wat die bedrag betaalbaar is. Die bedrag moet binne 30 dae betaal word.

LEES OOK: CompEasy – Die vergoedingsfonds se aanlynstelsel

Is dit slegs die werkers se lone wat verklaar moet word, wat van die direkteure of die eienaar van die boerdery? 

Grotendeels sluit dit slegs werkers in en natuurlik ook seisoenwerkers, maar as die boerdery as ‘n private maatskappy geregistreer is en daar is werkende direkteure wat ‘n salaris verdien, moet hulle salarisse ook verklaar word.

Watter ander aspekte word ook na gekyk wanneer die berekening gedoen word? 

Die landboubedryf bestaan uit vier verskillende sub-klasse onder die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en Siektes. Elke sub-klas gaan gepaard met ‘n tarief en daardie tarief word ook gebruik tesame met die lone om die berekening te doen.

LEES OOK: Produsente moet loonopgawes by Vergoedingsfonds verklaar

Wanneer is die sperdatum vir die voltooiing van die loonopgawe? 

Produsente het reeds toegang tot die Departement van Arbeid se aanlynstelsel vanaf die 1ste April en die sperdatum is 31 Mei.

Wat gebeur as die lone nie verklaar word nie of laat verklaar is? 

Dit is hier waar die produsent begin om boetes te betaal. Die boete waarvan ons praat, is 10% van die 2021-aanslagbedrag wat bereken is. Dit beteken as die aanslagbedrag R500 000 was vir 2021 sal die boete R50 000 wees. Ek dink in enige taal is dit ’n baie groot bedrag en moedig produsente aan om die lone te verklaar om ’n boete te voorkom.

Wat gebeur as die produsent nie die rekening binne 30 dae betaal nie? 

‘n Bykomende boete van 10% sal uitgereik word, gebaseer op die volle aanslagbedrag en weer eens kan die bedrag enorm wees.

Is daar enige reëlings wat getref kan word met die Vergoedingsfonds indien die produsent nie die volle bedrag kan betaal nie? 

‘n Produsent het ‘n opsie om die rekening af te betaal oor ‘n paar maande, mits ‘n 20%-deposito op die uitstaande bedrag betaal word. Die balans kan voor aansoek gedoen word om in maandelikse paaiemente af te betaal. Die reëling vir die afbetaling moet geskied voor die sperdatum van 30 dae om enige boetes te vermy.

Dit is baie belangrik dat produsente by die reëling hou want as hulle nie vir ’n spesifieke maand betaal nie sal die ooreenkoms gekanselleer word en die volle bedrag sal onmiddellik betaalbaar wees. Sodra die bedrag betaalbaar is, sal die Vergoedingsfonds ‘n brief van Goeie Stand uitreik.

Ook belangrik vir produsente om te onthou is die rekords van die loonopgawe, die rekening wat deur die Fonds uitgereik is asook die bewys van die betaling. 

As ‘n produsent ’n inspeksie sou kry vanaf die Departement van Indiensneming en Arbeid, is dit die bogenoemde rekords wat benodig sal word.

Oor die afgelope maand het ek heelwat navrae gekry vanaf produsente dat hulle nie rekeninge vanaf die Vergoedingsfonds ontvang het nie.

Die proses is nou dat alle produsente op die aanlynstelsel geregistreer moet wees om die lone te verklaar om sodoende hulle rekening elektronies te ontvang.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.