Agriculture
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 05:00 Mon, 22 Aug 2022
Hierdie verslag word deur Graan SA (GSA) verskaf.
Mielies:
Die Amerikaanse mieliemarkpryse het matig hoër gestyg ná 'n rondte tegniese aankope, aangespoor deur optimistiese uitvoerdata wat deur die USDA vrygestel is en onsekerheid oor die oestoestande. Oorspoelsterkte vanaf sojabone het pryse verder ondersteun.
Fisiese uitvoer van mielies het 33% laer verhandel as die vorige vier-week gemiddeld met China en Mexiko as die topbestemmings. Die Internasionale Graanraad het hul produksieskatting vir die 2022/23-seisoen met 0,8% of 10 miljoen ton mielies verlaag. Die skatting is verlaag as gevolg van produksie-onsekerheid in die VSA en die EU.
Plaaslik: Mieliepryse het gereageer op die sterk Amerikaanse mark. Die verswakkende wisselkoers het verder pryse ondersteun.
Produsente-lewerings tot op 12 Augustus lyk soos volg:
- WM: 5 460 876 ton. GM: 5 809 164 ton. Totaal : 11 270 040.
Mielie-uitvoer tot op 12 Augustus lyk soos volg:
- WM: 206 799 ton. GM: 1 111 539 ton. Totaal: 1 318 338 ton.
Die witmieliekontrak het vir Augustus R40/ton sterker verhandel vir die dag om teen R4 264/ton te sluit. Witmielies vir lewering in September het R46/ton sterker verhandel teen R4 287/ton. Die geelmieliekontrak vir Augustus 2022 het R53/ton sterker verhandel teen R4 248/ton. Die geelmieliekontrak het vir lewering in September teen R4 274/ton verhandel, R55/ton sterker.
Sojabone:
Die Amerikaanse sojaboonmarkpryse het vir 'n tweede agtereenvolgende sessie gestyg met pryse wat gemiddeld met 1,25% gestyg het. Die toename is veroorsaak deur 'n rondte tegniese aankope, aangespoor deur positiewe uitvoerdata wat gelei het tot 'n bietjie positiewe sentiment in die mark.
Sojaboonuitvoerbesendings is 19% bo die vorige vier-week gemiddeld met China en Mexiko as die hoofbestemmings.
Plaaslik: Die plaaslike sojaboonmark het ‘n goeie sessie ervaar met pryse wat tot en met 2,4% gestyg het.
Produsentelewering soos op 12 Augustus: 2 104 293 ton.
Die sojaboon Augustus ’22-kontrak het R104/ton sterker verhandel teen R8 800/ton. Die sojaboon September ’22-kontrak het R103/ton sterker verhandel teen R8 855/ton. Die sojaboon Mei ’23-kontrak het teen R8 500/ton, R200/ton hoër verhandel.
Koring:
Die Amerikaanse koringmark het laer geneig in teenstelling met die ander grane. Pryse het steun verloor oor die nuus dat meer Oekraïense skepe Swartseehawens verlaat en onsekerheid oor die Amerikaanse koringvraag.
Teleurstellende uitvoerdata wat deur die USDA vrygestel is, het pryse verder onder druk geplaas. Koring-uitvoerbesendings is 1% hoër as die vorige vier-week gemiddeld met die Filippyne en Mexiko as die top bestemmings. China se koringinvoer is 8,4% laer as die vorige jaar.
Plaaslik: Die plaaslike koringmark het die Amerikaanse koringmark laer gevolg met negatiewe marksentiment wat die afgelope paar sessies heers.
Produsentelewering soos op 12 Augustus: 2 238 991 ton.
Invoer soos op 12 Augustus: 1 390 106 ton.
Die koring Augustus '22-kontrak het teen R6 850/ton verhandel, R104/ton laer. Die koring September ’22-kontrak het teen R6 810/ton verhandel, R66/ton laer.
