Agriculture
Alle seisoene in September ervaar─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Mon, 19 Sep 2022
Hierdie maand kan beskryf word as ‘n mengelmoes van warm, winderige, koue en nat weerstoestande wat in dele van sentraal Suid-Afrika ervaar is.
Sien onderstaande PODCAST
Johan van den Berg, ‘n onafhanklike landbouweerkundige, sê dele van die Noord-Kaap het die afgelope tyd meer as 35 grade Celsius ervaar, maar hulle kan nou weer verwag dat temperature daar na 20 grade Celsius sal daal.
LEES OOK: Wisseling in temperature nie ideaal vir landbougewasse
Wat reënvooruitsigte betref, toon korttermyn-vooruitsigte dat ligte reën in die Suid-Vrystaat sowel as in die suidelike dele van die Noord-Kaap kan voorkom. “Hoe verder suid ‘n mens gaan, na die Oos-Kaap se kant toe, lyk dit of meer as 10 mm tot 20 mm [reën] kan voorkom.”
Geen swaar reën word vir September voorspel nie. Swaar reën word wel vir Oktober en veral vir November, Desember en Januarie voorspel.
Albei die La Niña en die Indiese Osean is in redelike gunstige fases vir gemiddelde tot bogemiddelde reën oor groot dele van die land, met die uitsondering van die Wes-Kaap.
LEES OOK: ‘Ons is naby aan die draaipunt van die nat siklus’
“Dit lyk of die La Niña gaan begin verswak rondom Januarie. Dit lyk asof die periode van Februarie en Maart droeër gaan wees en nie so nat soos hierdie afgelope seisoen nie.”
OFM-nuus het vroeër berig dat die El Niño-Suidelike Ossillasie tans in 'n swak La Niña-toestand is, en voorspellings dui daarop dat dit waarskynlik gedurende die res van 2022 in hierdie toestand sal bly. Suid-Afrika het aan die begin van die jaar baie reënval ervaar weens 'n sterk La Niña-verskynsel, wat beide positiewe én negatiewe gevolge vir die landbousektor ingehou het. Die weerdiens deel dat ondernormale reënval vir die westelike dele van die land gedurende die lente verwag word.
LEES OOK: Hoë vlakke van gereedheid heers weens potensiële veldbrande
Nicol Jansen, die president van Agri Noord-Kaap, het voorheen gesê die erge wisseling in temperature het ‘n negatiewe impak op sommige landbougewasse. Die vrugtebome begin bot en dan kom die koue weer, wat die bome laat twyfel waar die seisoen eintlik trek.
Jansen het met OFM-nuus gedeel dat in die Benede-Oranjerivier, van Groblershoop weswaarts, die wingerde klaar gesnoei is en hulle reeds gereed is vir die nuwe seisoen.
"Die pekanneutbome wag vir voldoende hitte voordat hulle begin stuifmeelpakkies maak.
"Die sitrus is klaar geoes en die laaste versendings is op die hawens vir uitvoer.
"Teen die rivier stroomop, in die kontantgewas-dele, is die koring groen op die lande."
Veldbrande
Die moontlikheid vir die ontstaan en verspreiding van veldbrande bestaan steeds, waarsku Van den Berg. Hy moedig inwoners aan om versigting te wees en om nie by aktiwiteite betrokke te raak wat kan lei tot die verspreiding van veldbrande nie.
Brandbestrydingspanne was die afgelope tyd na verskeie gebiede ontplooi weens veldbrande in dele van Sentraal Suid-Afrika. Johan Breytenbach van die Vrystaatse Sambreelbrandbeskermingsvereniging sê teen Augustus vanjaar is daar reeds meer as 6 000 veldbrande in sentraal Suid-Afrika aangeteken.
