On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Agriculture

Kommer oor traagheid om landelike veiligheidstrategie te implementeer

───   ELSABÉ RICHARD 09:00 Mon, 19 Dec 2022

Kommer oor traagheid om landelike veiligheidstrategie te implementeer | News Article

TLU SA is bekommerd dat tyd besig is om uit te loop vir die implementering van die nasionale landelike veiligheidstrategie om resultate te lewer.

Volgens Hugo Pretorius, voorsitter van TLU SA se veiligheidskomitee, het dié strategie sy oorsprong in 2011. Hy sê verskeie weergawes van die strategie is daarna vrygestel, “met weinig impak” en dat werklike implementering nooit plaasgevind het nie.

“ ’n Sogenaamde finale weergawe is einde 2018 deur die Minister van Polisie en Nasionale Kommissaris afgeteken. Die finale weergawe is egter geensins anders benader as al die vorige weergawes nie.

“Die Nasionale Spitsberaad in Junie 2022 het ten doel gehad om die strategie op te dateer. Daar is toe selfs ’n ministeriële taakspan saamgestel om toe te sien dat die implementering wel plaasvind.

LEES OOK: Minister versoek om ingryping deur veiligheidsberaad te versnel

“TLU SA het ’n lid wat op die taakspan dien. Dit is egter duidelik dat die taakspan eintlik geen magte of invloed het nie. In ses maande het die Minister dit ook nog nie nodig geag om een keer met die taakspan te vergader nie,” deel Pretorius.

Hy sê die landelike veiligheidstrategie het ten doel om misdaad in landelike gebiede aan te spreek, en dat ‘n vertraging in die implementering daarvan ‘n negatiewe impak op hierdie gebiede het.

LEES OOK: Party vra vir herinstelling van landelike veiligheidseenhede ná Kestell-plaasmoorde

Pretorius sê dit is tans die produsent se verantwoordelikheid om sy eie veiligheid te verseker.

“Geen aksie en uitvoering word gewys in die land se misdaadsyfers.

“As implementering van die begin af plaasgevind het, sou dit nou al ’n verfynde proses gewees het. Die sloerdery dra verder by dat produk-, veediefstal, diefstal van insetmiddele, asook die beskadiging van infrastruktuur nie aangespreek word.

“Dit is uiters noodsaaklik ten einde boere in staat te stel om te boer en sodoende voedselsekerheid te verseker. 

"Vir die doeleindes van voedselsekerheid spandeer boere baie geld en tyd aan veiligheidstoerusting, kameras en sekuriteitsmaatskappye, wat nodig is ten einde die boer in staat te stel om voort te boer en te poog om sy veiligheidsrisiko te verminder.”

DA en Agri SA 

OFM-nuus het voorheen berig dat die DA én Agri SA ook hul stemme hierby gevoeg het.

AgriSA het 'n beroep gedoen op die Minister van Polisie, Bheki Cele, om in te gryp en voorstelle deur die Landelike Veiligheidsberaad te implementeer om die toename in die aantal plaasaanvalle en geweldsmisdaad te bekamp.

“Daar moet definitief iets gedoen word aan die huidige situasie van landelike veiligheid. Ons voel daar word nie genoeg aandag daaraan gegee nie. Daar is iets drasties fout op grond[vlak] wat ons moet regmaak,” sê Uys van der Westhuijzen, voorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid: Landelike Veiligheid.

Die DA het ook gevra vir herinstelling van landelike veiligheidseenhede ná die Kestell-plaasmoorde in Julie 2022.

Die party se Bea Campbell-Cloete sê die party het ook ‘n landelike veiligheidsplan aan die nasionale regering voorgelê. Dié plan sluit in landelike beveiligingsgroepe wat die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en spesialiste betrokke kan kry. Dit vereis ook dat daar visuele polisiëring by plase en in plaasgemeenskappe moet wees, en stel voor dat tegnologie, soos hommeltuie en tweerigting radiostelsels, gebruik moet word.

Pretorius het verder bygevoeg dat misdaad op landelike gebiede gewoonlik hierdie tyd van die jaar toeneem. “Die feestyd is reeds die tyd waarin meer opportunistiese kriminele deel van die span word, wat hul toespits op kriminele aktiwiteite in die landelike omgewing.”

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.