Agriculture
Hoë insetkoste laat melkprodusente hekke sluit─── ELSABÉ RICHARD 13:33 Fri, 13 Jan 2023
Suid-Afrika het tans sowat 950 melkprodusente wie se koeie miljoene liter melk daagliks vir landsburgers produseer.
Die Melkprodusente-organisasie (MPO) se Fanie Ferreira sê egter dat hoë insetkoste verlede jaar daartoe gelei het dat enkele produsente, veral in die Wes-Kaap, uit die bedryf tree.
Ferreira verduidelik dat lusern- en mieliepryse ‘n styging in 2022 getoon het, “en dit is twee komponente wat ons produsente in die Wes-Kaap natuurlik baie groot gebruik, en baie van afhang.
“Behalwe al die insette wat deur die ander produsente geabsorbeer moes word, is produsente in die Wes-Kaap natuurlik soveel meer geraak deur die feit dat die vervoer van hierdie produkte duurder geword het,” sê Ferreira.
Hy deel dat die organisasie tot ‘n groot mate dankbaar is dat, in vergeleke met die hoeveelheid wat insetkoste opgegaan het, daar minder produsente uit die bedryf getree het as wat verwag is.
LEES OOK: Suiwelboere in trane weens roumelk wat hulle moes uitgooi gedurende KZN-onrus
Verdere uitdagings in 2022
Die beskikbaarheid van elektrisiteit was ‘n groot uitdaging. “Van ‘n melkboer se kant af, daar moet twee na drie keer per dag gemelk word. So, as daar nie krag is nie dan moet daar kragvoorsiening wees,” vertek hy.
LEES OOK: Getal suiwelprodusente verminder met 73% die afgelope 14 jaar
Baie produsente moes weens beurtkrag groot onkostes aangaan om kragopwekkers te verskaf in ‘n poging om bedrywe gedurende kragonderbrekings aan die gang te hou.
Die aanskaffing van kragopwekkers het beteken dat produsente diesel moes koop, wat beursies geruk het aangesien brandstofpryse ook die hoogte ingeskiet het.
Melkpryse
Melkpryse het nie in 2022 op dieselfde wyse soos insektkoste gestyg nie, “dit was ‘n groot uitdaging. Maar aan die [einde van die jaar] se kant af het ons gesien dat die volumes melk effens afgeneem het en dit het ons ‘n bietjie gehelp om te kon beding."
LEES OOK: SA melkbedryf presteer optimaal ten spyte van huidige omstandighede
Ferreira sê verder dat melkpryse ook aan die einde van 2022 begin verhoog het, wat ‘n welkome verligting vir melkprodusente was.
“Verder wat die omstandighede binne die melkbedryf aanbetref het dit eintlik goed gegaan. Dit was ‘n goeie produksiejaar gewees. In die meeste dele van ons land was die klimaatsomstandighede gunstig gewees.”
