On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Veeartse dra ook by tot Suid-Afrika se ekonomie

───   ELSABÉ RICHARD 09:04 Mon, 27 Feb 2023

Veeartse dra ook by tot Suid-Afrika se ekonomie | News Article
FOTO: bloemskou.co.za

Landbou dra ongeveer 2,9% tot Suid-Afrika se Bruto Binnelandse Produk (BBP) by en diere maak ongeveer R60 miljard daarvan uit.

Volgens dr. Gert Steyn van die Suid-Afrikaanse Veeartsenykundige Vereniging het Suid-Afrika ongeveer 3 500 geregistreerde veeartse en dra elkeen jaarliks sowat R17,8 miljoen tot die BBP by. 

LEES OOK: Suid-Afrika moet meer doen om veeartse te behou

“Dit beteken dat die werk wat veeartse doen op plase, by abattoirs en voerkrale, hierdie BBP vir Suid-Afrika genereer. So, dit is krities dat veeartse betrokke is en betrokke bly, en meer veeartse betrokke raak in Suid-Afrika vir ons as ‘n ontwikkelende ekonomie."

Hy sê egter die realiteit dat daar nou 'n tekort aan veeartse in die land is, is nie goed vir die ekonomie nie. 

Dit hou verskeie risiko’s in vir voedselveiligheid en –sekuriteit. Dit benadeel ook die lewering van veeartsenykundige dienste, wat lei tot onvoldoende diereversorging, verminderde voedselsekuriteit en 'n verhoogde risiko vir dieresiektes. 

Steyn is bekommerd dat, net soos die beurtkragkrisis die landbousektor lamlê, die veearts-tekort ook dieselfde uitwerking op die ekonomie en sektor kan hê.

LEES OOK: Nóg 'n ramptoestand verklaar, wat nou?

“Veeartse was tot onlangs toe in Suid-Afrika op die skaars vaardigheidslys gewees en ‘n jaar en ‘n half terug is veeartse afgehaal van die skaars vaardigheidslys af. Die implikasie daarvan is dat dit baie moeilik is vir buitelandse veeartse om in Suid-Afrika te kom werk. Hulle kry nie werksvisums nie. 

"Bo en behalwe dit is daar ook nog 'n verpligting op buitelandse veeartse om ‘n verpligte gemeenskapsdiens in Suid-Afrika te doen, wat dit nog moeiliker maak vir buitelandse veeartse."

Steyn voeg verder by dat om addisionele veeartse in Suid-Afrika op te lei, ’n agt tot tien jaar plan is. Die rede hiervoor is dat ‘n tweede veeartseny-fakulteit gevestig sal moet word by ‘n bestaande universiteit, wat ‘n groot kapitale uitleg kan wees.

LEES OOK: Bek-en-klouseer: Party vra vir beter voorsorgmaatreëls

Dieregesondheid

Dieregesondheid is die afgelope tyd baie onder die soeklig geplaas. Die uitbreking van bek-en-klouseer het versoeke dat biosekuriteitsmaatreëls ten alle tye toegepas moet word, hernu. Suid-Afrika het ook uitbrake van Afrika-varkpes. 

‘n Tekort aan veeartse om hierdie dieresiektes te identifiseer en behandel kan krities wees vir Suid-Afrika en sy ekonomie.

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.