On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Suid-Afrika moet meer doen om veeartse te behou

───   ELSABÉ RICHARD 07:47 Tue, 21 Feb 2023

Suid-Afrika moet meer doen om veeartse te behou   | News Article
FOTO deur Pranidchakan Boonrom: https://www.pexels.com/photo/vet-vaccinating-adult-tan-pit-bull-terrier-1350591/

Die tekort aan veeartse in Suid-Afrika is 'n wesenlike probleem met verreikende gevolge vir diere, sowel as openbare gesondheid.

Dr. Gert Steyn van die Suid-Afrikaanse Veeartsenykundige Vereniging sê die tekort benadeel die lewering van veeartsenykundige dienste, wat lei tot onvoldoende diereversorging, verminderde voedselsekuriteit en 'n verhoogde risiko vir dieresiektes. 

Suid-Afrika produseer ongeveer 150 veeartse per jaar uit die vereniging se enkele fakulteit van veeartsenykunde by die Universiteit van Pretoria se Onderstepoort-kampus. Daarmee saam kan dié tekort ook toegeskryf word aan ‘n enorme uittog van jong veeartse uit Suid-Afrika, sê Steyn.

Uit 'n opname wat deur die vereniging gedoen is onder veeartse in Suid-Afrika, wat deur ongeveer 20% beantwoord is, blyk dit dat 58% van veeartse wat jonger as 30 jaar is reeds in die proses is om te emigreer óf beplan om binne die volgende twee jaar te emigreer. 

Redes vir emigrasie sluit in veiligheid en sekuriteit.

Neiging in die getal veeartse oor die jare

“Veeartse was tot onlangs toe in Suid-Afrika op die skaars vaardigheid lys gewees en ‘n jaar en ‘n half terug is veeartse afgehaal van die skaars vaardigheid lys af. Die implikasie daarvan is dat dit baie moeilik is vir buitelandse veeartse om in Suid-Afrika te kom werk. Hulle kry nie werksvisums nie. 

"Bo en behalwe dit ook nog 'n verpligting op buitelandse veeartse om ‘n verpligte gemeenskapsdiens in Suid-Afrika te doen, wat dit nog moeiliker maak vir buitelandse veeartse." 

Steyn voeg verder by dat om addisionele veeartse in Suid-Afrika op te lei, ’n agt tot tien jaar plan is. Die rede hiervoor is dat ‘n tweede veeartseny-fakulteit gevestig sal moet word by ‘n bestaande universiteit, wat ‘n groot kapitale uitleg kan wees.

“Daar is tans nie plek by Onderstepoort om enige verdere veeartse op te lei nie.
“Hulle inname is ongeveer 200 studente per jaar en hulle kan nie meer as dit akkommodeer nie.”

Steyn is van mening dat op die kort termyn dit nodig sal wees om dit makliker te maak vir buitelandse veeartse om hier te kom praktiseer.

“Suid-Afrika is en bly ‘n fantastiese bestemming vir mense om hier te kom werk en hulle vaardighede hier te kom toepas, en te kom diens lewer in Suid-Afrika.

“Ek dink ook, tweedens, sal ons meer moet doen om ons veeartse wat ons hier oplei te kan behou.”

OFM-nuus


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.