Agriculture
Bek-en-klouseer: Party vra vir beter voorsorgmaatreëls─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Thu, 21 Apr 2022

Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) in Limpopo het ‘n beroep op die provinsiale regering gedoen om beter voorkomende maatreëls in plek te stel om te voorkom dat dié virussiekte verder versprei.
Marcelle Maritz, die party se leier in die Limpopo-wetgewer, sê die versoek volg nadat sy ‘n oorsigbesoek aan die grensdraad tussen Letaba Ranch en die plaaslike gemeenskap gedoen het.
Sien onderstaande PODCAST
Volgens Maritz is die grensdraad van die Nasionale Krugerwildtuin beskadig en kan diere, soos buffels, vrylik tussen ander diere rondbeweeg.
Buffels is bekend as draers van die bek-en-klouseervirus en kan gesplete hoefdiere daarmee besmet.
Maritz sê ook in ‘n verklaring dat op die roete na die grensdraad was daar geen sigbare monitering van die rooi sones of padblokkades om die vervoer van vee uit die gebiede te keer nie.
Ná hierdie waarneming het die VF Plus in die komiteevergadering daarop aangedring dat die provinsiale LUR vir landbou, Nandi Ndalane, asook die hoof van dié departement, Ramatsimele Jacqueline Maisela, duidelikheid moet verskaf oor die volgende kwessies:
- Die instandhouding van die grensdraad tussen Letaba Ranch en die plaaslike gemeenskappe;
- Die afbakening van besmette gebiede;
- Hoeveel beeste besmet is; en
- Of vee al die nodige voorkomende medikasie ontvang het.
LEES OOK: Bek-en-klouseer saai kommer in lewendehawebedryf
Bek-en-klouseeruitbraak in 2019
Limpopo is geen vreemdeling vir dié virus nie. Die provinsie het ook in 2019 uitbrake van bek-en-klouseer aangemeld. Suid-Afrika het gevolglik sy status as bek-en-klouseervrye sone by die die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) verloor.
Dr. Chris van Dijk, ‘n veeartsenykundige spesialis, het voorheen aan OFM-nuus vertel dat daar daagliks daaraan gewerk word om Suid-Afrika se status as bek-en-klouseervrye sone weer terug te kry. “Die staat is elke dag intens betrokke op nasionale, internasionale en provinsiale vlak om die siekte onder beheer te kry.
“So, daar is ‘n paar goed wat hulle in plek moet kry. Die eerste is marktoegang. Met ander woorde daar moet slagpale binne die area wees sodat die diere daar geslag kan word. Die grense moet weer gedefinieer word en baie duidelik toegepas word. En die volgende ding waaraan die Nasionale Dieregesondheidsforum werk, is die sogenaamde Lifestock Identification and Traceability System (LITS)-projek.”
Maritz voeg by dat met die uitbreking van bek-en-klouseer in 2019 in Limpopo het die provinsie ekonomiese skade van R4 miljard gely. Boere is ook erg hierdeur geraak. Veilings kon nie fisies plaasvind nie en diere moes aanlyn gekoop en verkoop word.
LEES OOK: Beheer van bek-en-klouseer is van nasionale belang
Ander siektes wat soortgelyke simptome kan toon
Bek-en-klouseer kan ook met ander dieresiektes verwar word, soos runderpes, beesvirus-diarree (BVD) en bloutong, sowel as beesherpes-virusse.
Bek-en-klouseer is volgens wet ‘n beheerde siekte en moet by die staats- of kuddeveearts aangemeld word sodra produsente van die bogenoemde kliniese simptome by diere opmerk.
Die veearts sal dan die provinsiale sowel as nasionale direkteure in kennis stel. Van Dijk sê omdat dit ‘n beheerde siekte is, sal die staat oorneem en besluite maak rondom watter maatreëls in plek gestel moet word, soos byvoorbeeld:
- Beperking van beweging van diere. Diere mag nie die plaas verlaat nie en produsente moet ook versigting wees om diere in te koop wat nie van ‘n bek-en-klouseervrye gebied af kom nie.
- Mense wat dalk in kontak was met besmette diere. Mense wat in kontak was met ‘n dier wat met bek-en-klouseer besmet is, kan vir ongeveer 48-uur die virus in sy boonste lugweë huisves.