Agriculture
‘Bid vir boerderygemeenskappe langs Oranjerivier’─── ELSABÉ RICHARD 06:00 Thu, 09 Mar 2023

Wingerde wat oorstroom het in die Benede-Oranjerivier is steeds ontoeganklik ten spyte van 'n afname in die rivier se vlak.
Die president van die Oranjerivier Landbou-unie, Wilco Fourie, sê verwerking en aktiwiteite sal onbepaald nie kan voortgaan nie.
Riviervlakke het van 4 500 kubieke meter per sekonde na onder 2 000 kubieke meter per sekonde afgeneem, met die uitsondering van Prieska wat teen Dinsdag 7 Maart 2023 1 500 kubieke meter per sekonde gevloei het, deel Fourie.
Hy sê ‘n vergadering met die Noord-Kaapse Departement van Landbou, Grondsake en Landelike Ontwikkeling sal belê word terwyl boere nie nou die omvang van die skade kan bepaal nie.
Volgens Fourie is die uitdaging veral kontantgewasse soos mielies en lusern, waar plantasies oorstroom het en oeste verlore is.
Hy sê damvlakke begin na minstens 100% en laer terugkeer, wat goeie nuus vir die landbousektor is.
Watervlakke het sigbaar afgeneem.
'Brief aan ons mense langs die Groot rivier,' deur Dominee Gert Barnard – Louisvale Gemeente
"Die twee riviere, Vaal en Oranje is twee mak riviere wat bykans deur ons hele land vloei, maar as hulle kragte saamspan is dit skouspelagtig en hoogs gevaarlik.
"Tans is die twee riviere in vloed en ons hele sinodale gebied hou asem op dat die walle net moet hou daar waar dit nog sterk staan. Ons is bewus van groot skade wat reeds aangerig is, maar die grootste deel van die noodwalle wat in plek is, is nog daar en is die landerye van vele van ons boere beskerm, wat die meeste van ons lidmate is, sonder om die ander uit te sluit.
"Ons wil deur hierdie skrywe aan al ons mense wat deur die water moet gaan die seën van die Here toebid en ons hoor die Woord wat noem in Jes. 43: 2. 'As jy deur water moet gaan – Ek is by jou, of deur riviere – hulle sal jou nie oorspoel nie. As jy deur vuur moet gaan – jy sal nie geskroei word nie, en die vlam sal jou nie brand nie. 3. Want Ek is die Here, jou God, die Heilige van Israel, jou verlosser.'
"Mag die Here ons mense in ons sinodale gebied, maar ook oral waar daar skade kan kom as gevolg van die vloed, beskerm.
"Ironies genoeg is daar ook mense wat nie hulle landerye kan besproei nie, omdat die pompe opgetrek is om te keer dat dit wegspoel en ten spyte van vloedwater, ly baie lande dors.
"Ons leef in n area van uiterstes, want terwyl ons bid vir beskerming teen vloed waters is daar gebede wat opgaan dat die Here sal voorsien daar waar dit so droog is en die veld dors na water.
"Kom ons bid vir elkeen, nie net ons boere nie, want ons besighede is ook interafhanklik van die boere en andersom.