On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Boere in Tokologo betaal glo tot vier keer meer grondbelasting

───   ELSABÉ RICHARD 07:00 Tue, 02 May 2023

Boere in Tokologo betaal glo tot vier keer meer grondbelasting | News Article
FOTO: Andriy Nestruiev/Pexels.

Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) sê boere in die Tokologo-omgewing in die Vrystaat betaal sedert verlede jaar tot vier keer meer grondbelasting.

VF Plus-lid van die provinsiale wetgewer, Armand Cloete, het tydens die Vrystaatse landboubegrotingsdebat gesê die toename is onregverdig teenoor produsente wat reeds swaarkry.

Hy sê daar was 'n 425%-toename in grondbelasting. "Speaker, dit is 'n misdaad. Boere word figuurlik gemelk omdat munisipaliteite in finansiële nood verkeer.

"Onthou nou, boere kry baie min direkte dienste van munisipaliteite. En die Tokologo-munisipaliteit weier om selfs met die georganiseerde landbou te vergader om hierdie verhoging te bespreek.

"Hierdie departement (van landbou) het tog 'n rol om te speel, al is dit om sulke besprekings te fasiliteer. Steun die departement hierdie boere?"

Veediefstal en landelike veiligheid

Volgens Cloete patrolleer boere ook hul eie gebiede en betaal vir bykomende veiligheidsmaatreëls om landelike veiligheid te verseker.

Hy het ook kommer uitgespreek oor veediefstal en dat dit meer georganiseerd word.

OFM-nuus het onlangs berig oor 'n man van Richmond in die Noord-Kaap wat tronkstraf van 15 jaar vir die steel van skape gekry het. John Bamm is op Saterdag 16 Julie 2022 in hegtenis geneem vir die diefstal van 48 skape ter waarde van R755 000 van die plaas Ongersfontein in Richmond.

Die Vrystaatse LUR vir Landbou, Teboho Mokoena, het tydens sy begrotingsrede vir die nuwe finansiële jaar gesê nege IP-netwerkkameras, vier sekuriteits- en twee landbouhommeltuie is beskikbaar gestel in die vorm van ondersteuning aan die boere op nege meentgronde, naamlik Jacobsdal, Petrusburg, Bethulie, Vredefort, Ventersburg, Bultfontein, Ladybrand en Fouriesburg, om veediefstal en plaasaanvalle te bestry.

OFM-nuus het intussen kommentaar versoek vanaf die landboudepartement sowel as die Tokologo-munisipaliteit.

OFM-nuus




@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.