On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

Begrotingsreaksie: ‘Dis duidelik landboudepartement het nie geld nie’

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 15 May 2023

Begrotingsreaksie: ‘Dis duidelik landboudepartement het nie geld nie’ | News Article
FOTO: Departement van Landbou/Facebook.

Dit is duidelik dat die Department van Landbou nie die fondse het nie, nog minder die regering.

Dit is die reaksie van Agri SA se Christo van der Rheede op Minister Thoko Didiza se begroting vir die 2023/24-boekjaar. 

"As jy gaan kyk na die begroting wat die minister bekendgemaak het, beloop dit sowat R17 miljard. Dit is niks in vergeleke met die R220 miljard wat boere in hulle private kapasiteit bekom om die land van kos te voorsien nie," vertel hy.

Van der Rheede sê drie sleutelpunte het uitgestaan, naamlik:

  • Suid-Afrika se biosekuriteitskrisis: “ ’n Baie sterk fokus op die biosekuriteitskrisis in die land en die nodigheid om Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) reg te ruk; [en] die nodigheid om die privaatsektor in te kry om te kom help met die vervaardiging van entstowwe.
  • Uitvoer: “ [Die minister het] baie sterk gefokus op die probleme wat ons het met uitvoer, veral die drakoniese [Europese Unie] EU-regulasies wat sitrusboere dwing om hulle vrugte vir amper 20 dae onder sekere temperature verkoel te hou.”
  • Alternatiewe energiebronne: “Die derde aspek gaan oor die aksie om boere in staat te stel om alternatiewe energiebronne te bekom – solar en ook ander energiebronne, sodat hulle hulle besproeingssisteme asook hulle verkoelingsisteme aan die gang kan hou …”

Van der Rheede sê die organisasie se versoek aan minister Didiza is dat sy 'n beleidsomgewing moet skep wat bevorderlik is vir entrepreneurskap en vir beleggings sowel as wat boere in staat sal stel om geld op die opemark teen goeie rentekoerse te kan leen sodat hulle kos aan die land kan voorsien.

Hy sê behalwe die beurtkragkrisis wat tans die landboudepartement lamlê, behoort hoë insetkoste ook die departement se aandag te geniet.

TLU SA het intussen ook sy reaksie op die begroting bekendgemaak. Hoofbestuurder Bennie van Zyl sê dit "fokus weer eens baie meer, verkeerdelik, op die ontwikkeling van bestaansboere, eerder as op die ondersteuning van kommersiële boere.

"Hoewel die minister meen dat hierdie begroting die departement en bedryf sal toelaat om 'voort te gaan om in die voedselsekerheid behoeftes van die land te voorsien', noem sy ook dat slegs 9% van die landbou-uitsette deur opkomende boere geproduseer word. Nêrens in haar rede het sy verwys na hoe kommersiële boere, wat al jare en generasies lank kos produseer, suksesvol bygestaan word nie."

Van Zyl sê die R17 miljard kan net so ver strek en waarsku dat wanneer die meerderheid van die geld verkeerdelik belê word, dit voedselsekerheid in die weegskaal plaas.

Minister Didiza het in haar rede bygevoeg dat die 2023/24-begroting die departement in staat sal stel om programme te implementeer wat voortgaan om die voedselsekerheidsbehoeftes van gemeenskappe en die land aan te spreek, grondhonger aan te spreek, ruimtelike beplanning te transformeer en by te dra tot die ontwikkeling van ons platteland. gebiede in vennootskap met ander regeringsfere.

“Terselfdertyd sal hierdie hulpbronne gekanaliseer word om te verseker dat landbou, grond en landelike sektore steeds 'n integrale rol speel in die ekonomiese heropbou en herstel.

OFM-nuus


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.